6 Christelike boeke vir jou boekrak
6 Christelike boeke vir jou boekrak sal jou geestelike lewe verryk. Daar is baie uitstekende Christelike boeke. Hierdie is my gunstelinge en die boeke wat in die loop van die jare vir my baie beteken het. Sommige van die boeke is deur oorsese skrywers en vertaal in Afrikaans. Die boeke is nie gelys in volgorde van gewildheid nie en sluit nie die Bybel in wat onontbeerlik in ’n Christen huis is nie.
1. Wanneer Ma’s vir hulle kinders bid / The Power of a praying parent – Stormie Omartian
Hierdie boek is ’n kosbare kleinood vir elke Ma wat haar kinders met God grootmaak. Die boek is vir my gegee deur ’n ander Ma. Dit het vir jare stof vergader in my boekrak totdat ek dit eendag uit desperaatheid uit begin lees het met verrassende gevolge. Onontbeerlik vir elke Ma – van jou kind se geboortedag en vir altyd. Gebede word nooit gemors nie en ons kinders kan altyd doen met ’n Ma wat bid.
2. ‘n Reënboog deur my trane – Solly Ozrovech
Na my man se dood het die Polisie kapelaan hierdie boek vir my gegee met die woorde: “ ’n Reënboog breek altyd deur na groot storms. Hierdie boekie sal jou help om die reënboog te sien en weer aan te gaan met jou lewe”. Desperaat op soek na die reënboog het ek hierdie boekie deel gemaak van my daaglikse geestelike lewe. Ek het al verskeie kere ook vir ander wat deur die rouproses gaan hierdie boekie aangekoop en as geskenk gegee.
3. Vergifnis maak jou innerlik heel – J. Nieder en T.M. Thompson
Elkeen van ons gaan deur traumatiese gebeurtenisse en in die proses kan bitterheid ons lewe binnesypel. Vergifnis is nie altyd maklik nie, maar as ’n kind van die Here is dit noodsaaklik om die mense wat onregte teen ons gepleeg het te vergewe. Net soos God ons sondes vergewe het.
Hierdie boek het my deur donker en bitter tye gehelp en gelei na vergifnis en myself vrygemaak van haatdraende gevoelens.
4. Motte en Magrietjies – Maretha Maartens
Hierdie is ’n boek vir vrouens geskryf deur ’n vrou. Ek het die boek sommer baie geniet. Dis soos om met ’n vriendin te sit en gesels en in ten minste 1 van die 9 sketse sal jy jouself duidelik sien. Is jy ’n mot of ’n pragtige Magrietjie? Vind uit hoe om te blom en sprankel. ’n Tydlose boek.
5. Sit ’n malva in jou hoed en lag! – Barbara Johnson
Barbara Johnson het eers laat in haar lewe begin skryf nadat sy reeds 2 kinders aan die dood en ’n derde aan vervreemding moes afstaan. Sit ’n malva in jou hoed is ’n boek wat jy nie kan neersit nie. Haar lag deur al die pyn is aansteeklik. Met tye wil jy saam met haar huil en dan weer uitbundig lag. Hierdie vrou het baie traumas in haar lewe deurgemaak en tog het sy in God bly glo en voluit gelewe.
6. A Daughters journey home – Dr. Linda Mintle
Ek het hierdie boek op uitverkoping vir R5 gekoop – hopeloos te goedkoop vir die waarde van die inligting en lesse in die uitsonderlike boek. Dr. Linda gesels openlik oor die dikwels uitdagende en moeilike verhouding tussen Ma en dogter en hoe om mekaar te verstaan en lief te hê ten spyte van verskille. Hierdie boek neem jou van geboorte tot aan die einde van jou Ma se lewe. Alhoewel die boek in Engels is, skryf sy in maklik verstaanbare Engels. Ma’s en hulle dogters kan beide baat vind by hierdie boek geskryf deur ’n Christen familie sielkundige en berader.
Naskrif: Ek is ’n Christen en dis hoe ek deur die lewe navigeer. Nie al die boeke het dalk betrekking op elkeen se lewe nie. Tog is trauma van enige aard deel van almal. Gee dan sommer die boek wat jy nie nut voor het nie vir iemand wat dit nodig het.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you