So bly ek is klaar met skool

So bly ek is klaar met skool. Ek het gehou van skool toe ek ‘n kind was. Ek kan egter nie dieselfde sê as ouer van skool kinders nie.

Skool was ‘n fees

Wel die Hoërskool was. Alhoewel ek nie een van die gewilde kinders was nie het ek skool baie geniet en nooit gedink aan al die opofferinge wat my Ma moes maak nie. En al die verantwoordelikhede. Ek was ‘n kind en sorgeloos.

Die ontnugtering

Selfs na my kinders se geboortes het ek steeds nie die volle prentjie gesien nie. Dit was eers toe my kinders groot skool toe is dat ek besef het wat dit alles behels om kinders op skool te hê. Skoolklere, skoolfonds, kosblikke en hulle inhoud, boeke, naskoolse aktiwiteite met die kostes daaraan verbonde. Vervoer. Boelies, Verkeerde maats. My belangrikheid as ouer is vervang deur ‘n onderwyser wat volgens die kinders baie beter as ek geweet het.

Die Hoërskool

Laerskool was een ding. Niks kon my egter voorberei op wat vir my gewag het toe my kinders Hoërskool toe is nie. Die onkostes was enorm. Die druk op my as enkelouer was met tye onuithoudbaar. Spesiale t-hemde vir verskillende dinge teen groot ekstra kostes. Die skool het baie dinge aangebied en alles het ekstra geld gekos. Behalwe die finansiële impak het die vervoer na die skool en buitemuurse aktiwiteite baie van my tyd inbeslag geneem. Weens my benarde finansiële toestand moes ek dikwels by die skool wag totdat die buitemuurse aktiwiteite klaar was. Dit het beteken dat ek niks anders kon doen in daardie tyd nie. Om die waarheid te sê het ek uitgewerk hoeveel tyd ek in my motor spandeer het. ‘n Volle 6 weke dag en nag elke jaar. Verstommend.

So bly ek is klaar met skool

Nou is ek ‘n Ouma en my lewe is baie rustiger. Salig. Ek mis dit glad nie om soos ‘n afkop hoender heen en weer te hardloop nie. Twee van my kleinkinders is nou in die groot skool en so begin alles weer van vooraf met een verskil. Ek is nie hierdie keer in beheer nie. Elke keer wat ek die kleintjies by die skool moet gaan haal is ek dankbaar ek is klaar met skool.

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    29 May 2023 at 9:08 am

    Selfde hiedie kant ook. Ek het daagliks met kleinkinders te doen omdat ek by hul bly. As ek soggens opstaand trek my maag op ‘n knop. As almal in skool is en by werk ontspan my ou lyf vir paar ure. Eks ook bly ek hoef nie meer skool te hou, wat ek vir 40 jaar gedoen het, nie.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      30 May 2023 at 3:44 pm

      Oe sterkte vir jou. Jy het meer moed as ek

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.