Naguil koerant uitgawe 2 van 2023
Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.
Van die Redaktrise
Welkom vriende en nuwelinge
Die afgelope maand het die komende winter reeds sy tentakels begin uitsteek. Weg met die somer lakens en in met die komberse. Warm sjokolade, Slaapkouse en oond poedings. Dit voel soos gister toe die lente aangebreek het met die lang dae en kort nagte. Nou is ons weer by lang nagte en kort dae en snoesige aande. Nie dat ek kla nie – ek hou van die winter. Wat is dan nou lekkerder as om met ’n boek in die bed te klim?
Hierdie maand se Naguil koerant verskaf weer lekker leesgenot vir elkeen van ’n see van blou blomme tot Jacques Pauw en Spud die hamster wat ’n buitengewone begrafnis gehad het.
Geniet die Naguil kuier
Groete
Amanda
Skrywer kollig
Jacques Pauw is meer as net ’n skrywer van nie-fiksie boeke. Hy is ook ’n ondersoekende joernalis en word deur vele gevrees. Verskeie aanslae is al op sy lewe gemaak en tog hou hy aan om korrupte staats amptenare aan die kaak te stel. Jacques het saam met Max du Preez die Vrye weekblad gestig tydens die apartheidsjare. The President’s Keeper is een van Jacques se mees opspraakwekkende boeke en vertel die storie van Jacob Zuma en die inlui van die “Mafia” staat in Suid Africa.
Ou boek kollig
Plekkie in die son is geskryf deur Ena Murray en handel oor Karen wat melaats is. Sy word in ’n sentrum vir melaatses opgeneem weg van haar familie en vriende. Verstote en alleen verlang sy na ’n Plekkie in die son. Ena het tyd in so ’n sentrum deurgebring om navorsing vir die boek te doen. ’n Film met dieselfde naam is in 1979 vrygestel met Jana Cilliers in die hoofrol. Hierdie is een van Ena Murray se beste en gewildste boeke.
Stories oor plekke en sy mense
- Rusbank reis is ’n wonderlike manier om die wêreld te sien en ervaar wanneer jy nie in persoon kan reis nie. Al Prodgers het sy YouTube kanaal Off the highway tydens grendeltyd begin. In sy video’s vertel hy ons meer van die geskiedenis en gebeurtenisse van en in Suid-Afrika.
- Die eienaars van Spud – die gesin se geliefde hamster het moeite gedoen om hulde te bring aan hulle troeteldier nadat hy of sy aan ouderdom gesterf het. Die gesin het Spud se as in Hawai gaan strooi terwyl hulle van Engeland afkomstig is.
- ’n See van blou blomme verskyn tydens die lente in Tokyo Japan en dit is asemrowend mooi. Japan is wêreldwyd bekend vir hulle blommeprag en hierdie is nie ’n uitsondering nie.
Nuwe boek kollig
Liewe Heksie is terug met Lekker Liewe Heksie-stories – ’n leesboek omnibus met 208 bladsye vol Heksie avonture. Hierdie omnibus bevat 10 van die gewildste Liewe Heksie-stories, met eenvoudige teks en kleurvolle prente om dit perfek te maak vir voorlees en beginners wat self lees.
Skrywer sake
Daar is verskeie goeie boeke op die rak om skrywers in Afrikaans te help soos die Afrikaanse skryfgids, Om te skryf en Om tot verhaal te kom.
Video kollig
Teken is nie een van my sterk punte nie. Volgens Graham Shaw kan almal teken – jy moet net sekere tegnieke aanleer. Ek het dit probeer met verrassende gevolge.
Grapjas
Musiek kollig
Duisend liggies van Ruben Lennox is hierdie keer in die kollig. Dit was ’n gewilde lied om te speel wanneer jou geliefde teruggekeer het van die grens af. Dit is steeds hoendervleis mooi.
Inspirasie
Johnny Clegg is ’n musiek legende en het diep spore in die musiekbedryf getrap. Dis dan ook net gepas dat 50 musikante bymekaargekom het om hulde aan Johnny te bring. Alhoewel dit reeds in 2018 gedoen is, is dit steeds inspirerend.
Diere sake
’n Speelgoedmaker in die Filippyne ken die pyn wat troeteldier eienaars ervaar wanneer hulle geliefde maat sterf. Hy het sy talent en empatie gebruik om ’n manier te vind om die troeteldiere met hulle eienaars te verenig. Hy maak sagte speelgoed wat identies soos die afgestorwe troeteldier lyk en voel.
Bybel vers
JOHANNES 6:35 AFR83 – Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Vinnige Resep
Warm sjokolade poeding
½ pakkie sjokolade muffin mix
2 eetlepels cocoa
2 eetlepels bruinsuiker
Kookwater
Maak die halwe pakkie sjokolade muffin mix aan volgens die riglyne op pakkie. Gooi die mengsel in ’n gesmeerde bak. Sprinkel die cocoa en bruinsuiker bo-op die mengsel. Gooi ongeveer 200ml kookwater versigtig oor die mengsel. Bak in oond by 180 grade en siedaar ’n souserige sjokoladepoeding.
scrapydo2.wordpress.com
22 April 2023 at 2:05 amDis lekker om al hierdie stukkies te lees. Doet so voort asb. My liggaam en siel smag na die soort van mooi Afrikaans.
Amandaskrywer(Aduppie)
23 April 2023 at 2:42 pmDankie vir die mooi kompliment. Bly jy geniet dit