Naguil koerant uitgawe 3 van 2023
Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.
Van die Redaktrise
Seisoene verander en so is die winter nou hier. Lang donker nagte en kort koue dae. Winter het sy eie lekkerte. Warm snoesige klere. Winterson wat die sitkamer binne kruip en boeke wat wag om gelees te word. My gunsteling etes in die winter is sop – groentesop, hoendersop, uiesop met stukkies geroosterde brood.
Winter is ook die tyd wat ek nuwe projekte aanpak en hierdie winter het ek ’n hele paar projekte waaraan ek wil aandag gee. Een van hulle is om my huis biblioteek te orden en my boeke volgens die biblioteek stelsel (Dowey) te organiseer en elke boek in my huis biblioteek op die rekenaar te plaas. Dis iets waarmee ek lank terug begin het en ongelukkig nie voltooi het nie.
Die aanhoudende beurtkrag maak ons almal met tye moedeloos en ek moet myself gereeld daaraan herinner om seker te maak dat my skootrekenaar gelaai is sodat ek kan skryf en dat die waterbottel vol kookwater is.
Geniet die winter en warm sjokolade in die winterson.
Dankie vir die saam kuier
Skrywer kollig
Hierdie maand bring ons hulde aan die skryfster Ela Spence wat in 1997 oorlede is. Sy het in haar lewe verskeie boeke in verskillende genres geskryf in beide Afrikaans en Engels. Goudgeel kappertjies en Die blinde orrelis is twee van my gunstelinge.
“Daar is ook ’n ondertoon van godsdiens in feitlik elke roman. Ek glo dat as ’n mens se godsdiens ’n natuurlike deel van jou lewe is, vloei dit vanself deur na wat jy praat of skryf.” (Die Transvaler, 14 November 1979)
Ou boek kollig
My kant van die saak (2008) geskryf deur Jaco Kirsten is ’n keur van sy rubrieke wat in Die Burger verskyn het tussen 2002 en 2007. Sy sterk opinie oor aktuele sake vermeng met sy goeie humorsin maak van hierdie boek ’n skatkis. Hy het ook vir die WEG geskryf en baie mense warm onder die kraag gemaak. Ek het lank na die boek gesoek en dit uiteindelik in ’n 2de handse boekwinkel opgespoor en kon dit net nie neersit nie. Jaco het intussen permanente verblyfreg in Amerika gevind waar hy steeds op ’n vryskutbasis skryf bo en behalwe sy ander besigheidsbelange.
Stories oor plekke en sy mense
- In Afrika is stokdans ’n gewilde sport wat my na my asem laat snak. Soveel energie het ek nie
- Beeldhouwerk in die oog van ’n naald is ’n kuns wat hierdie man bemeester en vervolmaak het.
- Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Boere ’n spoorlyn van die Britte opgeblaas en tot hulle verbasing gevind dat die voorrade trein wat weens die ontploffing ontspoor het vol Whiskey was. Boer en Brit het vir ’n wyle vergeet van die oorlog en lekker saam gekuier. Die FAK het onlangs ’n herdenkings fees gehou waar weereens lekker gekuier is.
Nuwe boek kollig
Atta Humphries is doofgebore en in haar boek Die verhaal oor ons lewe van doofheid vertel sy die verhaal van haar familie se genetiese doofheid wat al die afgelope 4 geslagte voorkom. Met hierdie boek wil sy bewusmaking skep vir dowes en die uitdagings wat hulle daagliks te bowe moet kom asook die belangrikheid wat gebaretaal in die lewe van dowes en hulle geliefdes speel.
Skrywer sake
SA Vryskutskrywer bied ’n verskeidenheid bekostigbare kursusse in skryf, redigering en joernalistiek aan. Hulle maak ook skryf kompetisies in Suid-Afrika bymekaar en publiseer dit op hulle webblad.
Video kollig
’n Dadel palmboom uit Jesus se tyd wat wydverspreid in Israel voorgekom het en uitgesterf het, is wonderbaarlik deur wetenskaplikes teruggebring en staan weer trots op sy plek.
Grapjas
Suid-Afrika weet net hoe om humor in die slegste situasie te sien. ’n Anonieme grapjas het Luthulie house die hoofkwartier van die ANC verander na Loothuli en Escom mega watt park verander na Escom mega gravy train park en dit nogal op Google Maps.
Musiek kollig
In my lewe gesing deur Mathys Roets is ’n pragtige nostalgiese lied met aangrypende video beelde
Inspirasie
Zoey Da Silva is ’n jong leukemie leier van Suid-Afrika wat spesiale kankerbehandeling benodig wat net oorsee beskikbaar is. ’n Deurbraak in haar behandeling is onlangs gemaak deurdat die peperduur behandeling nou in Kaapstad gedoen kan word wat die kostes vir haar en haar familie drasties verminder.
Diere sake
Koeie in Ierland raak in vervoering wanneer hierdie Ouma sing. Dit is te skattig en sal ’n glimlag op jou gesig en ’n huppel in jou stap sit.
Bybel vers
KOLOSSENSE 3:12 AFR83 –
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Vinnige Resep
Boelie beef muffins
Witbrood korsies afgesny
Boelie beef
Tamatie en uie smoor
Gerasperde kaas
Voorverhit oond 180 C
Smeer ’n muffin pan met botter
Meng boelie beef met uie smoor
Druk 1 sny brood in elke muffin holte
Vul met boelie beef mengsel
Gerasperde kaas bo-oor
Bak tot bruin en kaas gesmelt
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you