Radio o radio

radio o radio

Radio het ‘n welkome terugkoms gemaak tydens die Coronavirus tydperk. Ek het gedog dis net ek wat weer intensief begin radio luister het. Toe nou nie. Verskeie radio stasies regoor die wêreld beleef ‘n opbloei in luisteraars.

Radio my maat

Ek het my eie radio gekry Kersfees 1980. Dit was die beste persent ooit! Dit was voordat Televisie tussen beide getree het. My Ma het altyd gesê my radio is my hart/long masjien. Ek het nêrens gegaan sonder my radio nie. Elke middag se stories was ‘n hoogtepunt en die Top 20 was ‘n geleentheid wat ek vir niks ter wêreld sou mis nie. Saans het ek met my radio aan die slaap geraak. Nostalgie

Die tyd tussen-in

Nadat ek die grootmens wêreld betree het, het ek nie meer so dikwels radio geluister nie. Daar was partytjies om by te woon en ‘n kêrel op ‘n motorfiets wat my tyd in beslag geneem het. Televisie, CD’s en die Internet het dinge verander. Daar was ‘n tyd wat ek KFM en Radio 5 geluister het terwyl ek die kinders rondgery het. Hierdie radio stasies speel meestal musiek dus kan jy dit enige tyd en plek luister en die jonges het dit ook geniet.

Die radio is weer no 1 op die treffers parade

Tydens die COVID 19 tyd was ons gedwing om met onsself te gesels en het ek weer die radio nader getrek. Ek was verras hoe maklik ek weer aanklank gevind het veral by RSG en Eden FM. Nou luister ek eerder radio as om Televisie te kyk. Dis weer lekker om die radio te herontdek. Ek hou veral van Vrydag en Saterdag aande se musiek op RSG en die boek voorlesings. Eden FM se Sondag oggend programme gee my siel voedsel vir die komende week.

Radio o radio welkom terug my troue vriend.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.