Die naguil mini koerant 5 van 2021
Die naguil mini koerant 5 van 2021
Ons probeer ons bes om interessante brokkies te kry wat nie agter ‘n betaalmuur skuil en waartoe almal nie toegang het nie. Die hele idee van die Naguil is dat ons met julle dinge deel wat mens nie sommer alledaags op ‘n webblad vind nie. Welkom by ons 5de Naguil koerant van die jaar.
Skrywer sêgoed
“Die aanprysing van my lesers beteken vir my geweldig baie. ’n Skrywer skryf om vir mense ’n uurtjie van ontspanning en plesier te verskaf en om hulle ’n bietjie te laat nadink, dieper dink, al is dit ’n ontspanningsverhaal. As ek in hierdie doel geslaag het, dan maak dit my ook gelukkig.” (Boekenuus van Voortrekkerboekklub, Maart 1975)
Oupa Leesuil gesels boeke en sy mense
- Goed hierdie artikel het niks te doen met boeke nie en tog dink Oupa Leesuil dis gepas dat hierdie artikel oor die boot wat vasgekeer is en talle grappies ontketen het, erkenning kry.
- Tweedehandse boekwinkels is ‘n wonder wêreld van stories. Hier vind jy boeke van vergange dae en soms meer soos by die Blue Forest boekwinkel in George. Geleë in die middedorp tussen die geraas van stemme en motors is hierdie boek oase. ‘n Juweel van die Tuinroete.
Stories oor plekke en sy mense
- Sjokolade wat meer as 100 jaar gelede aan die Engelse troepe gestuur is tydens die Anglo Boere oorlog is op ‘n solder in Engeland ontdek nog steeds met die sjokolade binne in die blikkie.
- Soms dink ek terug aan die goeie ou dae van Televisie en die talle kwaliteit programme waaronder talle oorgeklankte reekse. Iemand was so slim om al hierdie reekse te lys op wikipedia nogals met die oorspronklike naam asook die land waarvandaan dit afkomstig is.
- Ontmoet Elize Parker, die trooster en raadgewer van Huisgenoot se Liewe Elize.
- Die kersie bome in Japan is in volle blom. Wat ‘n skouspel
Pittige Kommentaar
Die Internet se kommentaar afdeling op Sosiale media en webtuistes sorg soms vir komiese oomblikke.
‘n Artikel oor die huidige situasie in Mosambiek en die lande waaronder Suid Afrika wat belange en mense in die oorlog geteisterde land het – Ene Julie Janse van Rensburg vra Waar is ons eie spesmagte deesdae? Waarop Johan Kuhn antwoord: Onthou dis ‘n lang naweek.
Het jy geweet
Die skrywer Ena Murray was nooit buitekant die grense van Suid Afrika nie. Sy het haar navorsing vir stories in die Biblioteek gedoen en dan hierdie wonderlike liefdesverhale wat in verre lande afgespeel het opgetower. Ek het ‘n paar van haar boeke gaan navors en kon nie foute vind in haar vertellings van die lande, die kulture en sy mense nie. Formidabel.
Roep,roep my storie is uit
Dankie vir die saam kuier. Ons hoop julle het dit soveel geniet soos ons wat dit bymekaar gesit het. Tot volgende keer vriende.
Groete
Bertie en Amanda
P.S. Julle is welkom om julle bydraes in te stuur vir oorweging of sommer net saam te gesels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you