Nostalgie – onthou jy?

nostalgie drive in

Soms dink ek met nostalgie terug aan sekere dinge uit my kinderjare. Daar is dinge wat ek dink soveel beter was in die ou dae en ander wat ek sommer net mis omdat dit deel van my kindwees was.

Watter dinge is deel van jou nostalgie herrinneringe? Stuur ‘n epos of los ‘n boodskap op my posbus bladsy. Dis altyd lekker om van my lesers te hoor.

Wel hier is my lysie van nostalgie:

Inry teater

Dis die ding wat ek die heel meeste mis en iets wat my kinders nooit kon ervaar nie. Inry was ‘n uitstappie na ‘n wonderwêreld van klank en beeld, kos en samesyn met familie en vriende.

My eerste inry ervaring was in Port Shepstone, Natal waar ek gebore is, daarna Oudtshoorn waar ek vananf 14 jaar gewoon en skoolgegaan het. Oudtshoorn het ‘n baie groot inry vir 1000 motors gehad asook 2 sit teaters waar die weermag ouens gewoonlik gesit het. (Die groot weermag akademie was toe in Oudtshoorn geleë.)

Waneer ‘n Afrikaanse fliek gewys het, was die inry propvol en lewendig. Sommige mense het buitekant op komberse en kampstoele gesit, ander in die motors. Soms was ‘n mikrofoon stukkend en moes jy die bestuurder gaan soek. Een aand het ons Snip en Rissiepit gekyk en my Ma wou ry voor die ergste verkeer en vergeet toe die mikrofoon aan die ruit. Sy het weggetrek en die ruit het aan skerwe gespat…. Wonderlike herrinneringe aan ‘n tyd vir ewig verby

Draai Telefone

Ek onthou nog hoe gefrustreerd ek geraak het waneer ‘n lyn beset was en ek weer en weer die hele nommer van vooraf moes draai.

Rolskaatse

Dit was my gunsteling tydverdryf in my tienerjare en die rolskaatsbaan was die plek waar al die jongmense uitgehang het. Ons het tot gedisko op rolskaatse. Ai, hoe vat dit my nou terug.

Pic a Mix lekkers

Elke supermark het sulke bakke met verskillende lekkers en sjokolade gehad. Ek het altyd die driehoek sjokolade in die groen papiertjie gekies – dit was die lekkerste. Daarmee saam sou ek klomp verskillendes kies en die smake probeer. Lekker!

Kersfees sangers

Elke Oukersaand het mense meestal van die kleurling gemeenskap vir ons kom sing. Hulle het van huis tot huis en straat tot straat geloop en sing. Meestal ou halleluja kersfees liedjies. Dit was hoendervleis mooi.

Tikmasjiene

Ek het nog tik as ‘n vak geneem en ons moes ritmies op ons mieliepit tikmasjiene tik. Mnr. Strauss het maatgehou met sy liniaal en hy kon goed raas as ons nie in pas was nie. Ek kan nou nog goed tik, dis so ingedril by ons – hoe kan ek dit ooit vergeet? Ek is bly ek kon reg leer tik, ek is ook bly vir rekenaars waar ek nie als hoef oor te tik waneer ek ‘n fout gemaak het nie.

Langspeel plate

Die OK basaars het altyd ‘n hele afdeling vir langspeel plate gehad en ek het daarvan gehou om plate op hulle spesiale kopie rak uit te soek. Ek onthou nog hoe die naalde op die plate vashaak, en hoe mooi jy altyd jou plate moes oppas. Dit was hoe ons musiek geluister het op die platespeler wat in ‘n kas ingebou was.

Foto verhaal boekies

Ruiter in swart, Tessa, Rocco die grensvegter om net ‘n paar te noem. Ek was mal daaroor. Ek kon my inleef in die stories. ‘n Fantasie wêreld met regte helde.

Danie van Rensburg wat die rol van Ruiter in swart vertolk het, is weer terug in sy rol op 75.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.