Kinders wat lees

kinders wat lees

Biblioteek week 2020 het toe nie plaasgevind nie en met COVID 19 wat steeds verwoesting saai met geen end tans in sig nie, hang Biblioteek week 2021 ook in die weegskaal. Biblioteek week 2019 was ‘n opwindende tyd by my plaaslike biblioteek. Ons het vir die kinders stories gelees en hulle het entoesiasties deelgeneem en elke woord ingedrink. Boeke beteken baie stories en klein mensies wat hou van lees en die stories in hulle gedagtes laat lewe kry.

Ons biblioteek huisves baie kinders wat lees en tyd in die biblioteek verwyl. Die biblioteek is geleë in die middel van die dorp wat dit toeganklik maak vir meeste skoolgaande kinders. Die kinders gebruik die biblioteek as ‘n tipe nasorg terwyl hulle wag vir hulle ouers om van die werk af te kom. Hier sit hulle en doen huiswerk, sosialiseer en lees boek. Die biblioteek is vir hulle ‘n veilige hawe.

Pretbederwer

Maart 2020 het die virus egter sy intrek kom inneem en die biblioteke en skole moes hulle deure toemaak. Later het die skole weer heropen terwyl die biblioteek slegs op ‘n afspraak basis sake gedoen het. Dit het egter nie lank geduur nie waarna die biblioteek heeltemal toegemaak het tot verdere kennisgewing.

Waar is die kinders wat lees?

Ek wonder soms wat het nou van die kinders geword wat na skool by die biblioteek kom kuier het. Die skole het weer heropen terwyl die biblioteek steeds toe was. Ek mis die kinders en die biblioteek. Die kinders het my vertel hoe hulle boeke bespreek wat hulle wil lees en dat dat baie van hulle nie leesboeke kan bekostig nie. Die biblioteek is vir hulle ‘n kosbare en noodsaaklike plek.

Hierdie is kinders vir wie die boeke in die biblioteek deel is van hulle lewe en vriendekring. Hopenlik kan hulle gou weer herenig word met hulle boekemaats en hulle veilige naskoolse hawe: die biblioteek.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.