So hou ek die swart hond op hok

die swart hond op hok

Die swart hond boesem vrees in. Depressie.

Honde is ons siels maats. Ek het ‘n swart en wit foxy by name Millie. My maat al vir 17 jaar. Beste vriend. Vertroueling. Lojale ondersteuner.

Dis die gevreesde swart hond wat mens soms onverwags beetkry en nie wil los nie. Ek is ook al genadeloos rond geruk en gepluk deur die swart hond.

Mettertyd het ek egter geleer hoe om die swart hond op hok te hou. Dalk is daar iets wat ook vir jou kan help en dalk is daar ander dinge wat weer vir jou werk en wat jy graag met ons wil deel.

So hou ek die swart hond in sy hok

  • Stap met Millie deur die strate en ons plaaslike botaniese tuine is een van die eerste dinge op my lys van dinge wat vir my werk. Terwyl ons stap luister ek na die natuur geluide en kyk na die mooi plante en blomme rondom my. Tydens ons staptogte los ek my selfoon tuis.
  • Skryfterapie is iets wat ek reeds ‘n geruime tyd doen. Ek skryf sommer net my gedagtes en gevoelens in ‘n boek neer sonder om te let op taal gebruik. My ware gevoelens stort ek op papier uit en dit laat my beter voel.
  • Kook en bak is al van skooldae af iets wat ek geniet om te doen. Ek kies ‘n tema soos bv. Italiaans en maak dan iets eg Italiaans met resepte van gerespekteerde Italianers – nie die afgewaterde westerse weergawe nie. Elke nuwe suksesvolle kos produksie gee my selfvertroue ‘n hup stoot.
  • Tuinmaak is nog baie nuut vir my. My Ma was altyd ‘n ywerige tuinier en as ‘n tiener het dit my vreeslik irriteer. Die grond onder jou vinger naels, modder en bossies uittrek het my laat gril. Ek word 2 jaar gelede genooi na een van Tanya Visser se tuin dae by Builders en Amanda die tuinier word gebore.
  • Binne ‘n jaar van tuinmaak het ek ook geleer om my eie sement potte en plaveisel stene te maak. Elke keer wanneer die son op my lyf skyn en elke keer wat ‘n nuwe blom sy gesig na my toe draai voel ek hoe die blydskap binne my groei.

Nog idees

  • Lees was nog altyd ‘n anti depressant vir my en dikwels lees ek meer as een boek op ‘n slag. Wel nie gelyktydig nie. ‘n Opbouende boek saans. ‘n Ware verhaal of selfhelp boek deur die dag.
  • Tee in ‘n mooi koppie en piering buite in my kothuis tuin op die tuin bank wat ek self gemaak het. En ‘n malva lekker vir na die tee.
  • Kuier saam met ‘n vriendin waar ons gesels oor die ou dae,die hede en die toekoms.
  • Komedie is ‘n goeie opkikker en tydens die inperking het ek weer vir Carol Burnett ontdek. Wat ‘n lekkerte. Outydse komedie op sy beste.

Die swart hond op hok

2 Comments

  1. Gayle Logie

    6 April 2022 at 3:21 pm

    So wraggies die waarheid vriendin!

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      6 April 2022 at 9:16 pm

      Dis mos hoe jy my ken

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.