Skryf terapie
MY DEFINISIE VAN SKRYF TERAPIE
Ek verstaan en beoefen skryf terapie as ‘n manier om aan jou gevoelens uiting te gee sonder om ander mense skade aan te doen.
Volgens my en my ondervinding met emosies, vriende en familie is dat dit ‘n veilige eerlike manier is om jou hart, siel en gees te openbaar sonder om jouself bloot te stel aan onnodige kritiek, verraad en vooroordeel.
Jy het die reg om jou eie gevoelens te hê.
DIT HET MY LEWE TEN GOEDE VERANDER
Na vele geselsies met vriende en ook familie lede het ek besef dat ek dinge anders moes hanteer omdat sekere gesprekke oorvertel is wat onnodig onmin gesaai het. Ek het bietjie op die Internet gaan rondspeel en op skryf terapie afgekom. Ek het daarmee rondgespeel en besef dis eintlik ‘n wonderlike manier om met die lewe se stres en dinge te hanteer.
Dit is reeds 2 jaar wat ek dinge op hierdie manier hanteer en dit werk baie goed vir my.
HOE DIT WERK
Elke dag skryf ek met die hand in ‘n boek 3 goed neer waarvoor ek dankbaar is. Dit kan klein wees soos ‘n blommetjie op die sypaadjie of groot soos ‘n motor wat jy gewen het. Dankbaarheid is baie belangrik.
Daarna skryf ek oor my dag se gebeure. Die goed, die sleg en die verskriklik lelik en eina dinge. Ek skryf waaroor ek kwaad en ongelukkig is, ek skel en verskree die mense wat my omkrap en sê presies hoe ek voel.
Ek skryf ook oor my drome en ideale wetend dat niemand my idees kan steel nie.
Ek sluit my inskrywing af met mooi en opbouende woorde oor en vir myself.
VIR MY OË ALLEENLIK
Skryf terapie is bedoel net vir jouself, daarom kan jy gemaklik wees om te skryf wat jy wil. Die oomblik waneer jy jou gevoelens en menings met ander deel stel jy jouself bloot. Sekere dinge is net joune. Dis ongelukkig so dat daar mense is wat na jou stories sal luister net om om te draai en jou te verraai.
VOORDELE VAN SKRYF TERAPIE
- Dis gratis
- Jy kan dit doen net waneer jy wil
- Jy het nie ‘n afspraak nodig nie
- Daar is geen beperking op die hoeveelheid terapie sessies nie
- Dit kan aanvullend tot bestaande terapie sessies gedoen word.
EK IS NIE ‘N SIELKUNDIGE OF DOKTER NIE
Ek wil dit net duidelik stel dat ek nie ‘n Dokter of sielkundige is nie en dat ek slegs skryf oor wat vir my werk en hoe ek dit doen. Vir professionele hulp en raad gaan sien asseblief jou Dokter.
‘n Lewe van dankbaarheid is ‘n stuk wat ek geskryf het oor hoe ek tans lewe en die verskil wat dit maak aan jou uitkyk op die lewe. Tydens my soektog na nuwe maniere van terapie het ek op’n artikel van Lizette Rabe afgekom wat deur skryf terapie die dood van haar seun gekom het.
My Engelse webblad nl. Let’s make tea bied die leser nog leesstof.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you