Ek is ‘n beginner tuinier

Ek is 'n beginner tuinier

Ek is ‘n beginner tuinier en elke dag is ‘n leer proses. Ek kan nou verstaan hoekom mense so lief is vir tuinmaak. My Ma het in haar tuin geleef en die mooiste blomme opgetower en dikwels het ek my oë gerol as kind. Hoe kon dit lekker wees om vol grond te word? Deur al die jare het ons een van die mooiste tuine in die dorp gehad en selfs noudat my Ma in die ouetehuis is, is haar plekkie gevul met plante. Dis net jammer dat ek so lank gevat het om lief te word vir tuinmaak aangesien My Ma nie haar kennis aan my kan oor dra nie. Die brein is soms soos deurmekaar eier sê sy graag.

My gloeilamp oomblik

Ek het in die hospitaal beland in 2014 en was 11 dae in die nood eenheid nadat my longe platgeval het. Terwyl ek daar hulpeloos gelê het en gekoppel was aan lewegewende masjiene het ek besef dat ek beter na myself en my huis en tuin moes omsien. Ek het hierdie afgelope 6 jaar spandeer om my huis op te knap en tydens die eerste inperking het ek ernstig begin tuinmaak.

Ek is ‘n beginner tuinier

‘n Beginner tuinier klink soos iemand in sy twintigs en ek is oor 50 en tog is dit vir my ‘n heel nuwe ervaring. Skielik sien ek die blomme wat deur die plaveisel beur terwyl ek met my hond Millie stap. Ek kyk met nuwe oë na die bome, struike, blomme en plante om my. Die kwekery se mense groet my op my naam. Ek leer van inheemse en indringer plante en ook van plante eie aan my streek. Saans maak ek planne vir die volgende dag se tuin ekspedisies en avonture. Wat ‘n lekkerte! Dis asof ek net nie genoeg kan kry van hierdie tuinmaak ding nie.

Die stilte binne my

Tuinmaak is helend op die gemoed. Tuinmaak het gesorg dat ek positief bly tydens COVID 19. Elke dag is daar lewe in my tuin – voëltjies wat sing en bye wat zoem – pragtige musiek.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.