Week van feesvieringe

week van feesvieringe

Dis ‘n week van feesvieringe elke jaar in Mei. Ons ystervrou Ma is hierdie jaar 85 jaar oud. Elke jaar vandat sy 80 geword het vier ons 3 dogters fees saam met Ma. ‘n Hele week van kuier en feesvier saam met die Ma wat ons alleen groot gemaak het. Hierdie jaar was ekstra spesiaal.

Op Maandag 16 Mei 2022 het ons Ma 85 jaar oud geword.

Die week van feesvieringe het reeds op Vrydag 13 Mei 2022 begin met ‘n naweek kuier in Sedgefield waar ons tuisgegaan het in Placid Waters. Stadig stap op die wandelpad en uitkyk oor die see. Ma kan nie meer afstap tot onder nie. Etes op die balkon en jacuzzi geselsies. Sondagaand het ons opgepak vir ons tweede deel van die vakansie.

‘n Rit op die powervan in die Outeniqua berge was gepas.

My oorlede Pa was ‘n treindrywer en ons hele lewe is omring met treine. Ongelukkig is treine nie meer ‘n opsie nie. Die powervan was ‘n goeie tweede keuse. My Ma het dit geniet om in die berg op te ry met die klik-klak geluide en die trein fluit deur die tonnels. Naby die kruin van die berg het ons piekniek gehou. Saam met ons was ‘n Kanadese YouTuber Borders on Budgets wat ons vermaak het met staaltjies uit sy reise. Die 3de deel van ons vakansie was ‘n nostalgiese reis deur ons grootword jare saam met ons Ma.

Die Karoo lê diep in ons harte

Kort na my Pa se afsterwe in Natal het ons 4 vroumense na Oudtshoorn verhuis. Die plek waar my Pa se spore lê. Ons het in Klein Afrika tuisgegaan – ‘n stilteplek vir jou siel. Dit was die basis vir die res van ons reis. Ons het oor die Swartberge gery -’n pas wat ons baie gery het toe ons nog almal saam in die huis was. Die Hel (Gamkaskloof) het ons egter hierdie keer mis gery. By Prins Albert het ons suurlemoen roomys geëet. Terug in Oudtshoorn het ons by ons ou gesinshuis gestop en ‘n paar minute vertoef en stil geword. ‘n Leeftyd se herrinneringe.

Donderdagaand 19 Mei 2022 was koud en onplesierig. Ons het die kaggel aangesteek, gesels en lekker geëet en Vrydag 20 Mei het ons teruggery en teruggekeer na die hede.

Baie geluk Ma Renda met 85 jaar en dankie vir die opofferinge deur al die jare van enkelouer wees.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.