Ek raak soos my Ma

ek raak soos my ma

Ek raak soos my Ma vertel mense my. Dit was altyd my grootste vrees. In my tienerjare het ek als gedoen om anders as my Ma te wees. Volgens my was sy nie so koel soos my vriende se Ma’s nie – my vriende het weer gevoel my Ma is koeler as hulle Ma’s. Nou kan ek lekker lag daaroor – tiener dinge.

Dit loop in ‘n sirkel

Wanneer mens klein is draai jou hele lewe rondom jou ouers en in besonder om jou Ma. Toe my kinders kleuters was het hulle heeltyd rondom my gedraai en my oorlaai met drukkies en soentjies – en lipstiffie soene op kaartjies. In die tienerjare soek hulle na ‘n eie identiteit en Ma is nie meer die belangrikste mens in hulle lewens nie. Dan word hulle grootmense, kry kinders en word self ‘n Ouma

Ek lyk soos my Ma

So 6 jaar gelede by ‘n familie byeenkoms het verskeie familielede aanmerkings gemaak oor hoe baie ek en My Ma na mekaar lyk. Eers het ek gedink dit is sommer nonsens totdat ek die familie foto’s onder oë gekry het – dis wraggies waar. Ons gelaatstrekke, hare, selfs die vorm van ons oë. Dis net ons lywe wat verskil – my Ma is lank en skraal en ek is korter en duideliker sigbaar.

Ek raak soos my Ma

Dis egter nie net die fisiese wat ooreenstem nie. Dinge wat my Ma altyd gedoen het doen ek ook. Sy het altyd skottels in haar kombuis wasbakke gehad waarin sy die skottelgoedwater opgevang het vir haar plante – ek doen dit ook nou. My Ma het altyd vandag se oorskietkos gevries – ek maak ook so. Die plastiek sakkies waarin vleis en groente gevries was is gewoonlik gewas en weer gebruik om geld te spaar. Ek maak ook so – om die plastiek in die wêreld te verminder. Ma gebruik herbruikbare materiaal sakke vir haar inkopies – ek kan nie onthou dat ons ooit plastiek sakke in my ouerhuis gebruik het nie. Ek doen nou ook die materiaal sak ding.

Daar is nog baie ander dinge soos radio kerk Sondagoggende en kafee toe stap vir brood en melk.

Ek raak soos my Ma en dit pla my nie meer nie.

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    9 April 2022 at 2:20 am

    Dis hoe dit is, sirkels aanmekaar.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.