Wanneer niemand van jou weet nie
Wanneer niemand van jou weet nie kan niemand van jou vergeet nie. Uit die oog uit die hart. Geen verwagtinge nie. Geen teleurstellings nie.
Dit klink sinies
Glad nie. Wel dis meer ‘n geval van realiteit. Neem byvoorbeeld ‘n familie wat verhuis van een dorp na ‘n ander. My eie familie het van Port Sheptstone in Natal af verhuis na Oudtshoorn in die Wes Kaap na my Pa se dood. Dit was ongeveer 6 jaar na sy dood. Ek was toe ‘n jong amper tiener. Vyf jaar na die trek het ons teruggegaan Natal toe en geskok besef het dat ons nie so onmisbaar was nie. My Ma se woorde: Ons plek ken ons nie meer nie het my deur die jare bygebly.
Die realiteit
Vir sommige mense is jy nie so belangrik as wat hulle vir jou is nie. Dit is ongelukkig die harde realiteit. Dalk wil jy dit nie glo nie. Daar is ‘n toets om vas te stel of jy vir iemand belangrik is
Doen die toets
Nege jaar gelede het ek by ‘n kruispad met ‘n vriendin gestaan. Ek was altyd die ene wat kuiers inisieër het. Die ene wat eerste kontak gemaak het. Ek het haar as ‘n vriendin beskou. Wanneer ons saam gekuier het was dit altyd lekker. Tog het ek ongemaklik geraak. Ek was nooit op die lys wanneer sy mense genooi het vir kuiers nie tensy die voorstel van my af gekom het. Eendag het ek besluit om geen kontak van my kant af te maak nie. Ek sou wel reageer indien sy sou kontak maak. Aanvanklik het ek gehoop ek was verkeerd. Na ‘n jaar het ek besef dat dit nie gaan gebeur nie. Ons het mekaar in 2020 weer raak geloop en mekaar met ‘n drukkie gegroet. Dit was al.
Jy sal oorleef
Miskien wil jy nie die toets doen nie. Bang vir seerkry. Wanneer niemand van jou weet nie kan niemand van jou vergeet nie. Dit maak seer. Dis egter beter om die waarheid te weet gouer as later. Dan kan die genesing begin en jy kan belê in meer gesonder verhoudings met mense wat jou werklik in hulle lewens wil hê. Jy is genoeg. Jy sal oorleef.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you