Brief aan mede Afrikaners

Brief aan mede Afrikaners

Brief aan mede Afrikaners

Beste lede van die Afrikaner nasie

Afrikaans is vir my die mooiste taal en die een taal waarin ek myself die beste kan uitdruk. Afrikaans is ook die taal wat ons almal deel maak van mekaar.

Engelse en Afrikaanse Suid Afrikaners

Dink net so daar aan. Ons as Afrikaners is beter daaraan toe as die Engelse Suid Afrikaners. Ons het ‘n ryk Suid Afrikaanse geskiedenis met ons eie kultuur en tradisies terwyl ons Engelse vriende nie so bevoorreg is nie. Nou een dag het ek en ‘n Engelse vriendin juis daaroor gesels. Hulle het nie ‘n voortrekker monument, Voortrekkers en ATKV nie. Hulle staan nie uit soos ons en die ander groepe nie. Die Engelse is die enigste groep in Suid Afrika wat nie deel is van ‘n spesiale groep nie. Dit maak hulle nie minderwaardig nie. Dit maak ons ook nie meerderwaardig nie.

Ons het ‘n plek

Daarmee bedoel ek net dat ons Geskiedenis oor jare opgeteken en bewaar is. Die goed en die sleg. Ons het ‘n definitiewe plek in Suid Afrika. Ons moet dit koester en die vaandel verder dra. Die foute wat gemaak is in die verlede durf ons nie goed praat nie. Ons hoef egter nie weg te steek dat ons Afrikaners is en trots is daarop nie. Daar is ander ook wat ons taal praat.

Afrikaans het vele fasette

Daar is soveel verskillende maniere van Afrikaans praat. Verskillende rasse in Suid Afrika praat ook Afrikaans. Sommige praat loslit Afrikaans, ander praat geleerde boek Afrikaans. Daar is tog nie ‘n regte Afrikaner of ‘n verkeerde Afrikaner nie. Hoekom dan iemand weg stoot net omdat hy of sy nie lyk soos ons dink ‘n Afrikaner moet lyk nie.

Sogenaamde spesiale Afrikaners

Elke nou en dan verstom ek my aan ‘n Afrikaner/s wat dink dat hy en sy ‘n uitverkorene is en dat die hele wêreld op aandag moet spring vir hom of haar. Afrikaners wat ander nasies op sosiale media en selfs in die publiek die lelikste dinge toe snou en dan voorgee dat hy/sy ‘n Afrikaner en Suid Afrikaanse patriot is. Dikwels is daardie persone by geen Afrikaner organisasies betrokke nie en ken nie die geskiedenis nie. Hulle was nog nooit eers by die Voortrekker monument nie en weet niks van die Anglo Boere oorlog af nie. Dis hierdie mense wat ons ander Afrikaners ‘n slegte naam gee.

Ons is nie almal so nie

Terwyl ek soms skaam kry vir sulke mense is daar meer van ons wat gematig is. Wat besef dat daar dinge was wat ons beter kon doen. Nadat Apartheid ingestel is het een van die destydse Ministers die moed gehad om te waarsku dat die Afrikaner homself van al die ander nasies in Suid Afrika geïssoleer het en onsself verhewe het bo ander. Hy het onder meer gesê dat die Afrikaner ‘n fout maak om nie die ander minderhede in die land te omarm nie.

Ons kan beter

Ons as Afrikaners het soveel potensiaal en kan beslis ‘n verskil maak in Suid Afrika. Daar is soveel minderhede in ons land en ons is een van hulle. Hoekom nie ander minderhede beter leer ken en leer om saam te werk instede van teen mekaar werk nie? Ons kan beter doen. Elkeen van ons. ‘n Beter sterker Suid Afrika bou.

Van jou mede Afrikaner

Amanda

Deel die Brief aan mede Afrikaners met ander

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.