Van Ekstrovert na Introvert na Ambivert
Van ekstrovert na introvert. Is mens werklik net die een of die ander met geen middeweg nie? Miskien verander mens deur die jare of dalk het almal ‘n bietjie van albei.
Ekstroversie en introversie
Carl Gustav Jung was ‘n Switserse Psigiater en Sielkundige. Volgens sy navorsing rig ekstroverte hulle op die buitewêreld terwyl introverte mense is wat in hulleself gekeer is. Terwyl beide ekstroversie en introversie in alle mense voorkom, oorheers een van hierdie eienskappe altyd. Dus is dit moontlik en waarskynlik dat ons beide eienskappe in ons persoonlikheid stoor. Mense wat basies geballanseerde eienskappe toon word ‘n Ambivert genoem. Dit beteken sulke mense hou soms van sosialisering met ander en hou ook daarvan om alleen te wees.
Van ekstrovert na Introvert
Mense het altyd opmerkings gemaak oor hoe positief en gemaklik ek is met alle tipes mense. Volgens hulle was ek ‘n ekstrovert en dalk was ek – of dalk nie. Na my man Hannes se dood wou ek net nooit alleen wees nie, ek wou heeltyd tussen mense wees. Ek sou by vriendinne gaan kuier en hulle help huis skoonmaak terwyl die kinders by die skool was– net sodat ek nie alleen moes wees nie. Dit is lank terug
Dit het verander
Vyf en Twintig jaar maak ‘n groot verskil. Daar het baie tussein in gebeur en ek het baie gegroei – dalk te veel. Nou is ek baie gemaklik met my eie geselskap – soveel so dat ek myself daaraan moet herrinder om met ander te sosialiseer. Dus behoort ek aan ‘n paar organisasies soos ‘n Leeskring waar ek een keer ‘n maand moet aantrek en gesels. Dan kan ek weer weke op ‘n slag alleen wees – net ek en my hond. Wanneer ek sosialiseer met ander geniet ek dit wel meestal – ek geniet dit egter ook om op my eie te wees. Dit blyk asof my introvertiese eienskap tans oorheers in my persoonlikheid. Dalk het ek nou ‘n Ambivert geword.
Una
4 April 2022 at 10:15 amHuidiglik wonder ek oor myself. Baie lief vir mense, maar net so lief vir alleen wees. Tog oorheers die alleen-behoefte meestal. Dalk mens se ouderdom?
Amandaskrywer(Aduppie)
4 April 2022 at 8:45 pmJa ek wonder ook of die ouderdom iets daarmee te doen het en of ek abnormaal is. Goed om te hoor daar is nog iemand wat hou van alleen wees.