Sosialisering tydens ‘n pandemie
Sosialisering tydens ‘n pandemie is nou nie iets waaraan ons voorheen gedink het nie. Geen gewone mens (behalwe die wetenskaplikes) het so iets voorsien nie. Mense is sosiale wesens en om skielik opgehok in jou huis te wees is nie natuurlik nie.
Alleen mense
Ek is een van die alleen mense en is gewoond daaraan om alleen te wees. Ek is gemaklik in my eie geselskap. Tog is dit soms ook vir my uitdagend. Alhoewel ek nie ‘n sosiale vlinder is nie, het ook ek my dinge wat ek doen en bywoon. Ek help in die biblioteek, behoort aan ‘n leeskring, doen volkspele, gaan stap in die Botaniese tuine, gaan kerk toe en so meer. Nou is ook my vlerke geknip en moet ek nuwe maniere vind om aan te pas by die nuwe vreemde normaal. Die pandemie is nog nie verby nie so ons moet nuwe maniere vind om te sosialiseer tydens ‘n pandemie.
Kuier mense
Suid Afrikaners kuier graag en in die jaar wat die pandemie al aan die gang is, het mense se geestesgesondheid ‘n knou gekry weens die gebrek aan sosialisering. Dis kommerwekkend hoe baie veral die jong kinders sukkel. Die ou mensies in die ouetehuise sukkel ook. Eintlik sukkel almal of jy ‘n introvert, ‘n ekstrovert of iewers in die middel is.
Sosialisering tydens ‘n pandemie
Wat doen mens wanneer alles wat jy nog altyd gedoen het tot stilstand kom en jy gedwing word om te onttrek van mense en meestal tuis te bly? Elke mens hanteer situasies op hulle eie manier. Dus kan ek net vertel wat vir my werk. Miskien is dit iets wat jy ook wil probeer.
- Ek het die radio herontdek. Dis so lekker om weer by die radio familie in te skakel en deel te neem aan besprekings en dinge
- Verskillende Facebook groepe bied dinge aan wat gratis is om by te woon uit die veiligheid van jou huis. So het ek al boek bekendstellings bygewoon, Tanya Visser se tuinbou klasse bygewoon en selfs ‘n kook kursus bygewoon
- Sondae woon ek die aanlyn kerkdiens van my plaaslike kerk by.
- Ek stap soggens en saans met my hond Millie en knoop geselsies aan met die mense wat my pad kruis – natuurlik gemasker en op ‘n veilige afstand
Het jy enige voorstelle vir sosialisering tydens ‘n pandemie? Gooi ‘n nota in die Posbus. Ek wil graag hoor wat julle doen in hierdie tyd.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you