Tiener wees in die tagtigs
Tiener wees in die tagtigs was baie anders as vandag se dae. Ons was langer kind. Meer onskuldig en onkundig, Sorgvry die meeste van die tyd.
Die kinders van vandag
Wel, hulle dink my stories is oninteressant, selfs ongelooflik. Hulle kan hulle nie die lewe voorstel sonder Selfone en ander tegnologiese wonderwerke nie. Hulle is gewoond dat alles in ‘n kits gebeur.
Die tagtigs se kinders waarvan ek ene was, het ‘n eenvoudige lewe gelei en tog was ons gelukkig.
Ek onthou
- Rolskaatse was die in ding en ons het twee rolskaats bane in my tuis dorp gehad. Dit was die uithangplek vir die jongmense. Vakansietye was Hartenbos se rolskaatsbaan die plek om by uit te hang. Ons het gedans op rolskaatse. Ballerina passies uitgevoer. Sulke goeie herinneringe.
- Skole sport byeenkomste was iets wat ek nie misgeloop het nie. Ek moes net eenvoudig gaan gees vang. Wat ‘n belewenis!
- Inry teater voor die koms van televisie was ‘n bederf. Ons het gewoonlik die Afrikaanse flieks gaan kyk en dan was die inry tot kapasiteit gepak. Die aand toe Snip en Rissiepit gewys het, het ek my so ingeleef in die storie dat die trane by my gesig afgeloop het terwyl die reën in die storie teen die ruit afgeloop het.
- Klas partytjies by die skool was gewoonlik die laaste dag van skool en niemand het daardie dag skool gebank nie.
- Radio stories smiddae om 14:00 op Springbok radio en elke aand stiptelik om 19:20
- Die tydskrif Keur (nou bekend as die Vrouekeur. Dit was in die tagtigs ‘n gewilde tydskrif onder tieners met penmaats
- Radio gram – daardie groot houtkas met ‘n radio en platespeler in. Saterdag middae het ek graag my plate gespeel en saamgesing op die musiek van Sonja Herold, Groep 2, Sias Rynecke, Charles Jacobie. Afrikaanse musiek het voorkeur geniet.
- Die manne op die grens en Bel en ry na was gewilde radio programme en Kersfeestye het ons graag geluister na al die versoeke en boodskappe en die musiek spesiaal geskryf vir die Weermag manne soos Troepie Doepie. Ons het ook baie weermag outjies gehelp met saamry geleenthede.
My gunstelinge
- Die Biblioteek was vir my ‘n wonderlike plek met ridders uit vreemde plekke uit die pen van Ena Murray. Ons het tou gestaan om haar nuutste boek in die hande te kry. Deur haar boeke kon ek ander lande besoek en leer van ander kulture. Daar is net iets so spesiaal daaraan om ‘n boek te lees. Niks kom daarby nie.
- Fietsry op ‘n Sondag middag saam met my Ma en susters op die grondpaaie buitekant die dorp. Van misdaad het ons nie veel geweet nie.
- Venster inkopies oftewel “Window shopping” Sondag aande na die erediens. Ons het die hele hoofstraat van die dorp van bo tot ander, weerskante gestap en ons verkyk aan goed waaroor ons net kon droom. ‘n Wonder wêreld.
- Fliek aande tuis met ons huis films en Laurel en Hardy en Charlie Chaplin komedies.
- Afrikaanse Treffers Parade op Saterdag middae. Ons het in afwagting gesit vir die no. 1 terwyl die batterye van die radio amper pap was op my Oupa se plaas waar daar nie elektrisiteit was nie.
Ek dink dikwels terug met Nostalgie aan daardie jare veral wanneer ek ‘n liedjie op die radio hoor wat my aan iets of iemand herinner.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you