Op reis deur my lewe

op reis deur my lewe

Op reis deur my lewe van geboorte tot nou. Terwyl ons tans nie kan reis nie weens die virus hier is ‘n Terug blik op my lewe sover en die toekoms moontlikhede.

Die afgelope 18 maande was ‘n reis van ‘n ander aard met ‘n virus wat die wêreld deurmekaar geklap het. Dis soms moeilik om te glo dat dinge so vinnig verander het. Nou is dit selfs ‘n geleentheid net om kafee toe te gaan.

Die begin van Amanda

Ek is op 6 Januarie 1965 in Port Shepstone in Natal gebore. Die 2de dogter. Volgens my Ma is ek tydens storm weer om 3 uur die oggend gebore. Dit klink my asof my geboorte opslae gemaak het. My eerste 5 jaar was sorgvry. My Pa was ‘n trein drywer en my Ma ‘n huisvrou. Ek en my sussie het elke middag vir my Pa gewag om van die werk af te kom. Dan het ons sy blik trommel huis toe gedra en gekyk wat hy vir ons saamgebring het.

5 tot 18 jaar

My Pa is in ‘n motorongeluk dood 6 maande na my 5de verjaarsdag. 7 Maande na my Pa se dood is my kleinsus gebore – ‘n persent na al die hartseer. In my St. 4 jaar het ons Oudtshoorn toe getrek waar ek my skoolloopbaan voltooi het.

19 tot 27 jaar

Na matriek is ek Polisie kollege toe waarna ek na Kimberley uitgeplaas is. Dit was my eerste alleen reis. In Kimberley het ek my toekomstige man ontmoet en ons is 18 maande later getroud. Twee kinders het gevolg. Dit was ook my grootword jare. My kinderjare was baie beskermend. Kimberley het my baie geleer van die lewe.

28 tot 45 jaar

My Man is in ‘n motorongeluk dood toe ek 28 en hy 30 jaar oud was. Na sy dood het ek my kinders en diere opgepak en na die Suidkaap verhuis. Dit was my eerste alleen trek en ek onthou hoe ek telkens in Meiringspoort moes stilhou en myself bymekaar maak. Die jare wat gevolg het was baie stresvol. Kinders grootmaak op jou eie sit nie in almal se broek nie. Die kinders se tienerjare was uitdagend. Ek het gesukkel om alles te balanseer en bymekaar te hou.

Verder op reis deur my lewe

46 tot 56 jaar

Amanda se mooiste jare. In hierdie tyd het ek myself gevind. Die kinders is groot en uit die huis. Twee kleinkinders wat sjokolade soentjies uitdeel. ‘n Tydperk van groei. Nuwe dinge aanleer soos Huis opknapping, gourmet kosmaak, tuinmaak, meditasie, skryf, lees. Ag dis net so lekker.

Die toekoms reise

Ons weet nie wat die jare vorentoe vir ons inhou nie. Ek verkies om nie te veel vooruit te beplan nie. Geen voorspellings nie. Elke dag bring sy eie geleenthede en uitdagings.

Het jy al op reis deur jou lewe gegaan?

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.