Sopnat soene

Ek het Ouma geword in 2015 en my lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. ‘n Ouma se kleinkinders is iets heel anders as om Ma te wees van kinders.

‘n Ouma se kleinkinders

Ek was beslis nie voorbereid daarop om Ouma te word nie dus was ek heel verras toe ek hoor dat ek binnekort Ouma by my vele ander titels sal kan voeg. My eerste kleinkind is op 16 Februarie 2015 gebore – ‘n pragtige blondekop seuntjie en ‘n jaar later het ‘n donkerkop dogtertjie haar opwagting gemaak.

Ma wees

Ek was 23 toe ek Ma geword het en Ma-wees het my hele lewe oorheers. Nog ‘n baba het gevolg en kort daarna was ek ‘n weduwee enkel Ma met twee kleintjies van 5 en 3 jaar oud. Die lewe was gejaagd en ‘n daaglikse uitdaging en oorlewingstryd. Geld was min, verantwoordelikhede baie en aleen Ma wees was beide uitputtend en met kosbare mooi oomblikke gevul.

Ouma wees is vreemd en anders

Die dag toe ek na die gesiggie van my kleinseun in my arms kyk het dit nogals vreemd gevoel. Dit was nie my baba nie maar tog het ek baie teruggedink aan die dag toe ek my bondeltjies in my arms gekoester het. Ek kon steeds onthou hoe dit gevoel het, my nuwe baba se reuk en warmte en die liefde wat als oorweldigend was.

Hierdie keer was anders. Besluite was nie myne om te neem nie en die verantwoordelikhede ook nie myne nie. Die enigste wat dieselfde was, was die onvoorwaardelike liefde en beskermings drang.

Liefde in oorvloed

Kleinkinders is minder werk en ek kan hulle meer geniet en die drukkies en soentjies maak my hart week. Ek verbaas myself oor die baie geduld wat ek met hulle het en hoeveel dinge ek saam met hulle doen en ervaar.

Tweede kanse

Soms voel dit of ek die geleentheid het om dinge oor te doen en minder gestres te wees en te wonder of ek als reg doen. Twee klein mensies hou my hart in die middel van hulle klein dikwels vuil handjies vas en vir hulle is ek die wonderlikste ding op twee bene – onvoorwaardelike liefde in oorvloed.

Lees meer

Daar is nog baie ander artikels op hierdie webblad om te lees soos Tallie se storie en die waarde van Skryf terapie. Geniet ook hierdie sêgoed oor Oumas en kleinkinders.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.