Nostalgie Inry teaters

Nostalgie  Inry teaters

Nostalgie – Inry teaters. Dit was die groot familie geselligheid. ‘n Plek waar die nuutste rolprente gekyk is. Dit was iets waarna ons as kinders uitgesien het. In ons gesin was dit Afrikaanse flieks. Engelse flieks het ons as kinders in die Acropole gaan kyk. Afrikaanse flieks was ‘n familie ding wat ons saam geniet het in die inry teater.

Ek onthou

Gebore in Port Shepstone Natal is dit ook waar ek met die inry kennis gemaak het. Ons kinders het altyd voor en tydens pouse in die speelpark gespeel – in ons nagklere. My Ma het die heerlikste kosmandjie ingepak met kos en ook lekkers. Koeldrank vir ons en ‘n koffiefles vir die grootmense. In my Standerd 4 jaar het ons Oudtshoorn toe getrek. Oudtshoorn het ‘n massiewe inry teater gehad met twee onderdak plekke waar die weermag manne gewoonlik gesit het. Die infanterieskool was baie aktief in daardie tyd. Wanneer jy wou toilet toe gaan het jy dikwels in ‘n lang ry gestaan en die fliek daarvandaan gekyk – sodat jy niks mis nie.

Na my Polisie opleiding was ek in Kimberley gestationeer. Daar was 2 groot inry teaters en elkeen het verskillende flieks gewys. Soms het ons die 6 uur fliek by die een inry gekyk en die 10 uur fliek by die ander.

Onthou jy

  • Die mikrofone wat gekrap het en soms nie wou werk nie of in die middel van die fliek opgehou met werk het
  • Die gevryery in die inry – daar was ‘n hele paar inry babas.
  • Kelners by die vensters met die verskillende lekkers en koeldrank
  • Die motor wat voorentoe en agtertoe gery het om vir elkeen in die motor ‘n goeie beeld te verseker
  • Middernag vertonings veral tydens oujaar.

Nostalgie – Inry teaters

Inry is iets wat my kinders nooit kon ervaar nie en my kleinkinders waarskynlik ook nooit sal nie. Daar was fluisteringe tydens Grendeltyd dat inry teaters ‘n terugkeer kan maak – in ‘n ander gedaante. Indien dit waar is sal ek dit beslis probeer. Al is dit net om ‘n deel van die ou nostalgie te ervaar.

2 Comments

  1. Una

    6 March 2022 at 6:28 am

    Jy laat my ook nou sommer terugverlang na ons inry-aande, Amanda.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.