Oorlog in ons tyd
Oorlog in ons tyd. Donderdag het ons wakker geword en met skok gesien hoe ‘n oorlog bykans oornag uitgebreek het. Vir ons voel dit ver weg – vir ander is dit hulle realiteit. Terwyl ek die video’s en foto’s gekyk het van die vrouens en kinders wat vlug het ‘n diep hartseer my oorval. Hierdie vrouens en kinders moet die werklikheid in die oë staar dat hulle dalk nooit weer die mans in hulle lewens sal sien nie.
‘n Hele generasie van kinders kan hulle Pa’s verloor
Die Rusland/Oekraïne oorlog is ‘n voorbeeld van hoe maklik dinge kan verander. Ons is al so gewoond aan oorlog in lande soos Afghanistan dat ons half afgestomp geraak het. Die beelde van Donderdag was baie anders. Hierdie kinders en mense lyk soos ons, hulle stede en dorpe ook. Mooi geboue, netjiese kinders, troeteldiere. Ek het bietjie navorsing gaan doen en gesien dat Afghanistan vroeër jare ‘n vooruitstrewende land was met pragtige geboue. Hulle vrouens was vry en hulle kinders het in vrolike parkies gespeel.
Dit neem een man om almal se lewens te verander
Magshonger en Geldhonger is orals in die wêreld te bespeur. Politici wat hulleself verryk ten koste van die gewone werker op straat. Hitler is ‘n goeie voorbeeld. Hy was ‘n goeie spreker en dit het mense na hom toe aangetrek. Dit terwyl hy homself verryk het en sy mag misbruik het. Steeds het hy sy aanhangers.
Die 2de wêreldoorlog
My Ma onthou die oorlog nog asof dit gister was. Sy en haar susters was kinders en alhoewel die 2de wêreldoorlog nie in ons strate afgespeel het nie, het dit almal geraak. My Ma vertel hoe hulle saans alles moes donker maak sodat die vegvliegtuie nie die ligte kon sien nie. Dus het hulle komberse en lakens voor die vensters gehang. Sy en haar suster het die aand gebad en toe hulle moes afdroog het hulle baklei oor wie eerste die handdoek gaan gebruik. Tydens hulle bakleiery het die laken losgekom van die venster af. Haar Pa het die meisiekinders op hulle kaal sitvlakke geslaan terwyl haar Ma angsbevange die laken teruggehang het. My Ma is nou 85 jaar oud en steeds onthou sy die angs en vrees.
Oorlog in ons tyd
Hierdie naweek het ek nogal gedink oor wat ek sal doen as oorlog hier by ons uitbreek. Die beelde op die skerm van die Ma’s met hulle kinders wat met rugsakke en klein trolletjie tasse stap na ‘n ander land het my laat wonder wat ek sal saam neem indien oorlog hier sou uitbreek. Oorlog voel onwerklik. Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om deur jou dorp te stap waar geboue in puin lê en missiele oor jou kop vlieg nie. Families word uitmekaar geskeur.
Daar is geen wenners in oorlog nie – net verloorders
Verskeie Oekraïniers was stomgeslaan deur die inval in hulle land. Hulle het dit nie verwag nie. Gewone mense bewapen hulleself om hulle land te verdedig. Baie van hulle het geen ondervinding van oorlogvoering nie. Russiese burgers is ook teen die oorlog en word in hegtenis geneem en van hoogverraad aangekla.
“Ek maak glas en installeer ruite – dis al wat ek ken” . Nou moet ek leer skiet sodat ek my land kan verdedig.- Pa van 3 – Oekraïnier
Ek is self nie ‘n geweer en oorlog entoesias nie – ek sal heelwaarskynlik ook liewer begin bid.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you