Nooit te oud nie
Mens is nooit te oud nie altans dis wat ek dink. Ek is ‘n “late bloomer” soos my Ouma altyd gesê het. Ek het altyd verkies om by die bekende te bly. Verandering het my bang en benoud gemaak.
DIE REBELLIE
Wel, daar was maar altyd ‘n rebellie binne in my aan die gang alhoewel ek eintlik daarna gesmag het om my eie stem te vind en te laat hoor. Ek was egter altyd meer ingestel op ander se gevoelens as my eie en wou die minste weerstand wys. My huis mure was pers en groen geverf – dis die naaste wat ek aan ‘n openlike rebellie gekom het.
In 2011 is ek gediagnoseer met Achalasia, ‘n sluk siekte en het ek besluit dis nou of nooit nie. Ek het my huis oorgedoen – vrou alleen en ook aan myself begin werk. Wie was ek en waarheen was ek oppad? Dis wat ek wou uitvind.
SUSAN BOYLE
In 2009 het ek soos so baie ander my verkyk aan ‘n vaal vroutjie op Britain’s got talent wat met haar sterk stem die wêreld verower het. Susan Boyle se storie is steeds ‘n hengse inspirasie vir my. Sy het altyd in haarself geglo en het net nooit opgegee nie selfs al was daar soveel dinge wat teen haar getel het.
NOOIT TE OUD NIE
Ek was vasbeslote om uit my groef en self opgelegde idees te breek en een van die dinge wat my terug gehou het, was my ouderdom. In 2011 toe ek met my proses begin het, was ek middeljarig, grys, lomp, mollig en ek het myself verwyt dat ek so lank gewag het voordat ek die lewe kaalhand aangepak het. Die Internet en boeke is net wonderlik want ek het soveel hulp uit dit gekry en het ek voetjie vir voetjie vorentoe beweeg.
NOOIT TE OUD OM TE LEER NIE
Ek het myself gedwing om nuwe dinge te leer en te sien waarvan ek hou en geniet. Hier is net ‘n paar dinge wat ek al probeer het:
- Ek het ‘n SUSHI kursus gedoen
- Skryfterapie
- Parkrun
- Italiaans leer kook
- Ek het my eie huis renovasies gedoen met hulp van YouTube videos
- Yoga
- Taichi
- Meditasie
- Kruie tuin
- Chinees leer kook
- Skryf kursus oor hoe om jou eie autobiografie te skryf
- Juwele leer maak met krale
- Joernalis by ‘n plaaslike koerant
- Geleer van die eerste nasies van verskillende lande
HOU AAN LEER
Ek lees graag inspirerende artikels van ouer mense wat uitstyg bo hulle ouderdom. Mense wat op 80 jaar leer lees en skryf het of die tante wat nog op 70 deelneem aan gimnastiek kompetisies. Ek daag myself gereeld uit tot nuwe dinge. Dit is waar dat met ouderdom kom wysheid, dit maak ons beslis nie volleerd nie. Daar is altyd nuwe dinge om te leer wat ons lewens en die van ander kan verryk en ons siel kan voed. Ek daag myself gereeld uit om nog ‘n kultuur van nader te leer ken, te leer hoe om boekrakke te bou en ook hoe om my gedagtes positief te hou. Dis ‘n aanhoudende proses. Ek lees en skryf elke dag. Dit hou my brein jonk en aan die gang.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you