Corona dagboek week 8

corona dagboek week 8

Corona dagboek week 8: Sondag 3 Mei 2020 tot en met Saterdag 9 Mei 2020

Sondag 3 Mei 2020

S.A. Infeksies: 6783 Sterftes: 131

Soos altyd is Sondag my rusdag. Ek werk 6 dae ‘n week en vat dan Sondae af. Ek lê meestal op my rusbank in die sitkamer met ‘n boek terwyl my kos in die slowcooker prut. Tans is ek besig met The Alchemist van Paulo Coelho. Ek lees hom nou weer die soveelste keer en word nooit moeg daarvoor nie.

Ouma raak tech savvy

Vandag het Ouma haar eerste voicenote op ons nuwe familie Whattsup groepie gestuur. Dit het wel meer as ‘n uur se geduld gevat om dit reg te kry maar vandag het Ouma die Whattsup Olimpiese spele vir Oues oor 80 jaar loshande gewen. Sy het uit haar maag uit gelag oor die Tom en Jerry kat se Coronavirus video.

DANKBAAR

  • So dankbaar ons Ma het weer iets wat haar interesseer en vermaak
  • Dankie vir fone waarmee ons met Ouma kan korrespondeer
  • Geel voëltjie wat in my Basilie boom kuier

Maandag 4 Mei 2020

S.A. Infeksies: 7220 Sterftes: 138

Huis skoonmaak was op my agenda vandag. Mens kan ook net solank wegkyk van die vuil vloerteëls. Ek is ook geneig om goed op te gaar soos die weeklikse koerant en dan lyk my sitkamer tafeltjie later soos ‘n nuusagentskap.

SASSA en die Oumensies

450 000 Oumense het nie vandag hulle geld gekry nie, as gevolg van ‘n tegniese probleem. My Ma was baie ontsteld en het my vertel hoe dinge na die tweede wêreldoorlog ook so deurmekaar gehardloop het. “Ek sien swaar tye aankom. Dis weer resessie tyd. Moenie onnodig geld uitgee nie” waarsku my Ma

DANKBAAR

  • Crab stix pasta – te lekker
  • Alice bands en haarrekkies om my haredos uit my oë te hou
  • Warm klere om aan te trek

Dinsdag 5 Mei 2020

S.A. Infeksies: Sterftes:

Elke dag is Millie gelukkiger as die vorige dag. Mens kan sommer sien hoe helder die hondegesig en lyf op wanneer ek haar leiband nader bring vir ons oggend se stap. Deesdae is daar baie mense wat stap en Millie hou van al die honde maats langs die pad.

ELLENDES

Daar is soveel pyn, frustrasie, hulpeloosheid te sien in die wêreld met die besighede wat die een na die ander ondergaan met gepaardgaande werkverliese. Dit breek my hart om die desperaatheid en angs rondom my te aanskou. Mense wat nog altyd vir hulleself gesorg het, voel nou waardeloos en weet nie meer hoe om kos op die tafel te sit nie. Die toekoms lyk onseker. Daar is egter altyd hoop dat dinge sal stabiliseer en selfs sal verbeter. My Ouma het altyd gesê: Niks hou vir altyd aan nie. Alle slegte dinge kom tot ‘n einde en selfs in die donkerste tye skyn die lig helder, volg net die lig.

DANKBAAR

  • Ek is dankbaar dat ek kos het om te eet
  • Dankbaar vir skoon drinkwater
  • Boeke en tydskrifte wat lewens verryk

Woensdag 6 Mei 2020

S.A. Infeksies: 7808 Sterftes: 153

Met tye kan die alleen bly tydens die inperking nogals uitdagend wees en soms moet ek hard met myself praat en myself weer bymekaar maak. Gelukkig het meeste van ons toegang tot die Internet en fone. Dit maak kommunikasie met vriende en familie baie makliker.

DANKBAAR

  • Millie wat deur water plassies hardloop
  • Ek is so dankbaar dat ons weer buite mag stap
  • Groen gras – dit voel na lewe

Donderdag 7 Mei 2020

S.A. Infeksies: 8232 Sterftes: 161

Dorp dag vandag was ‘n klein bietjie anders met fase 4 van die inperking se ietwat verslapte maatreëls. Daar was beslis meer mense in die winkels met meer opsies om te koop. Die meel en ander koekbak bestanddele bly ‘n uitdaging en deesdae ook die sjokolades. Lyk my ons gaan almal ronder wees.

Thabo Mbeki

Ek kom nou die dag op ‘n resep af vir Thabo Mbeki se gunsteling nagereg tydens sy termyn as President en vandag het ek die bul by die horings gepak en hierdie Presidentiële lekkerny gemaak. Dis ‘n karringmelk nagereg met ‘n vrugte bo-laag. Dit was uit die boonste rakke en nou ook een van my gunstelinge.

DANKBAAR

  • Karringmelk vrugte poeding
  • Godsdiens vryheid
  • Die nuwe Kitkat salted karamel fudge – so lekker

Vrydag 8 Mei 2020

S.A. Infeksies: 8895 Sterftes: 178

Vroegoggend het ‘n vriendin met wie ek ongereelde kontak het, vir my ‘n boodskap gestuur om te sê dat haar suster vanoggend oorlede is na ‘n massiewe beroerte. Dit het my nogals aangeraak want met alles wat tans in die wêreld aangaan, en die stres en angsvlakke wat die hoogte inskiet voel dit met tye of niks meer reg loop nie.

Moedersdag is gekanseleer

Gister terwyl ek in die winkels was, het ek opgelet dat daar geen Moedersdag geskenkies was nie. Daar was geen aanduiding dat dit Sondag Moedersdag is nie. Dit voel baie vreemd. Die vrolike ligte luim in die winkels is weg.

Hoop

Daar is altyd hoop dat dinge weer sal beter wees en word en al voel ons magteloos in hierdie onseker tye en terwyl sommige mense in hierdie tyd ook moet afskeid neem van geliefdes, moet ons vasbyt en iets positiefs soek tussen al die rommel. Daar is altyd hoop.

DANKBAAR

  • Ek het ‘n tuin waar ek in die son kan sit en tee drink
  • Romerige matcha tee
  • Epsom sout om in te bad

Saterdag 9 Mei 2020

S.A. Infeksies: 9420 Sterftes: 186

More is Moedersdag. Ek is hierdie jaar stoksiel alleen met net Millie as geselskap. Dit gaan my egter nie verhoed om ‘n lekker ete te kook en in gedagte saam met met eie Ma te wees nie. Dus het ek sommer vandag al begin kos maak. More gaan dit iets by die 30 wees.

DANKBAAR

  • Ek het kos om te eet
  • Ek is alleen maar gesond
  • Millie en ek hou mekaar geselskap

GESELS SAAM

  • Gaan na my Posbus bladsy
  • Los ‘n boodskap
  • Stuur ‘n e-pos
  • Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
  • Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.

COVID 19 – Suid Afrika

A virus broke the world – die wêreld vasgevang in die virus.
Coronavirus klap Suid Afrika – Die virus vind sy pad na Suid Afrika

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.