Liewe Ma
Rubriek
‘n Aktuele rubriek
Omtrent Rubrieke
Rubrieke is basies artikels waarin die skrywer sy of haar opinie met die lesers deel.
Tipes Rubrieke
- Komies
- Polities
- Aktueel
- Nostalgies
- Vakkundig
- Teetyd kuiers
’n Anderse Moedersdag in 2023 – sonder fênsie duur presente – net liefde, omgee en bymekaar wees soos die Ma wat van Moedersdag ’n instelling gemaak het en ontnugter en teleurgesteld was toe die kommersiële wêreld van Moedersdag ’n geld masjien gemaak het.
Moedersdag
Die idee van ’n spesiale dag vir Ma’s het in Amerika posgevat in 1907 toe Anna Jarvis gevra het dat Moeders opgedra moes word aan die Here tydens ’n kerkdiens. Haar Ma is kort vantevore oorlede en sy wou op hierdie manier eer aan haar Ma sowel as ander Ma’s bring. Anna het gewonde soldate tydens oorloë verpleeg en het ’n pleidooi vir vrede gemaak sodat Moeders se seuns kon huis toe gaan. Ongelukkig het haar eerbare idee in ’n geldmaak kwessie ontaard en dit het haar diepbedroef. Dus wil ek Moedersdag 2023 anders vier.
Liewe Ma
Hierdie Moedersdag wil ek opdra aan die Ma’s vir wie Moedersdag ’n seer herinnering is. Dikwels is hierdie Ma’s die uitgeworpenes van die samelewing. Wanneer dinge verkeerd loop in ’n kind se lewe word die Ma blameer.
- Ongehude Moeders van vandag en gister
- Ma’s wie se kinders in die tronk is
- Mamma’s wat hulle baba’s moes afgee vir aanneming.
- Moeders wie se kinders hulle verwerp het.
- Mammas in ouetehuise met vergeelde foto’s van hulle kinders teen die mure – die kinders is te besig.
Ek dink ook aan
- Ma’s wat kinders aan die dood moes afstaan.
- Moeders wat terminaal siek is
- Enkel Ma’s wat die beste doen onder moeilike omstandighede
Blomme en sjokolade en fênsie presente beteken niks as daar nie respek, liefde, lojaliteit en opregte omgee is nie. Jy Ma is goud werd en jy is goed genoeg.
Moeders in die Bybel
JOHANNES 16:21 AFR83
‘n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het en haar kindjie gebore word. Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ‘n mens in die wêreld gekom het.
EKSODUS 20:12 AFR83
“Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.
Antjie Krog se gedig Ma pas baie mooi by hierdie spesiale dag opgedra aan Ma’s.
Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fênsie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig –
want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste Bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.
Geseënde Moedersdag aan elke Ma en as jy vandag sonder kind of kraai sit weet dat jy baie spesiaal is en deel is van God se koninkryk.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you