Wat skryf jy?

wat skryf jy

Wat skryf jy?

Skryf jy? Wat skryf jy? Fiksie of Nie-fiksie of albei? Skryf jy professioneel of sommer net vir die lekkerte? Engels of Afrikaans?  Skryf jy meestal met die hand of tik jy alles op ’n rekenaar? Hoe nou? Skryf jy nie? Dan is dit tyd om te begin skryf – ja elkeen kan skryf.

“Die wonderlike ding van skryf is dat dit jou hele verlede vir jouself toeganklik maak. Dit bring jou in kontak met dinge wat jy vergeet het. Ek skryf om uit te kom by iets wat ek weet ek nie by sal uitkom nie. Maar ek moet aanhou probeer.” – Andre P Brink

Jy is ’n skrywer

Binne elkeen van ons is ’n skrywer wat wag om te ontluik. Vroeër jare was mens net ’n skrywer wanneer jy ’n boek geskryf het – eintlik ’n literêre boek vol hoogs onverstaanbare terme wat pryse wen. Mense soos Dana Snyman, Nataniël en Ena Murray was meer gesien as derderangse skrywers. Selfs nou is daar mense wat neersien op hierdie tipe skrywers.

“Ek het nog nooit probeer om ’n letterkundige werk te skryf nie. Dit is nie my terrein nie. Ek ken my beperkinge. Ek skryf vir die gewone mens. Vir die vrou wat miskien ook nie veel meer as matriek het nie. Of dalk ’n graad het, maar nou ’n paar kleintjies het om groot te maak. Ek skryf in my eie praattaal, wat almal verstaan.” – Ena Murray

Deesdae is daar selfs Afrikaanse hygboek skrywers.  Jaco Kirsten het naam gemaak vir homself deur rubrieke vir die Burger en WEG te skryf. Al hierdie mense het een ding in gemeen – hulle is almal skrywers. Ja, selfs die mense wat godsdiens stories vir die plaaslike kerkblad skryf.

“Om te skryf is soos om te droom terwyl jy wakker is. Dis soos om te toor.” – Jeanne Goosen

Skryf is terapeuties.

Deur elke dag te skryf, kan jy verhalend tot verhaal kom Probeer sin maak met sinne wat nie wil sin maak nie. Dis die wese van skryfterapie – Lizette Rabe

In Lizette Rabe se boek Om tot verhaal te kom vertel sy van die heling wat skryf kan bring. Na haar seun se selfdood het sy meer intensief en meer persoonlik begin om haar gevoelens neer te skryf. Dit het haar gehelp om sin te maak uit die sinnelose. Skryfterapie word erken as een van die beste metodes om trauma te verwerk. Dit kan persoonlik wees soos om in ’n Dagboek te skryf of om professionele artikels te skryf. Wanneer jy skryf vir terapie maak dit nie saak van jou spelling of sinsnedes nie. Jy skryf neer hoe jy voel – en die papier waarop jy skryf kan nat wees van die trane of vol gekleurde doodles wees. Dit maak nie saak nie.

“Daar is niks in die hemel of op die aarde of onder die see wat nie in Afrikaans uitgedruk kan word nie. Dit is op die veld gebore en is so eie aan ons land as die lang geel gras eie aan die grootste deel van Suid-Afrika.” – Uys Krige

Skryf en lees gaan hand aan hand

“As ek in iemand se woonplek kom, kyk ek altyd eerste wat op die boekrak is. Dit verraai baie. Ek dink ’n mens behoort eerstens ’n leser te wees, dan ’n skrywer.” – Dana Snyman

Ek het nog nooit iemand ontmoet wat skryf en nie lees nie. Alle skrywers sal vir jou vertel dat mens moet skryf wat jy lees. Dit kan ook nie anders wees nie. Jy kan tog nie iemand se hare knip en styl as jy nie kursusse daarin geloop het en nie ’n belangstelling daarin het nie. Jy moet die bedryf verstaan. Dit help nie om te probeer Rillers skryf as jy nog nooit rillers gelees het nie. Skoenmaker hou jou by jou lees.

Waar skryf jy?

Het jy ’n vaste tyd wat jy uitsit vir skryf? Skryf jy voor die televisie, in restaurante of op ander spesiale plekke? Ek het een van my kinders se ou kamers vir my ingerig vir ’n skryfkamer vir wanneer ek binnenshuis skryf. Daar is ’n gemaklike stoel en lessenaar in met boekrakke vir my woordeboeke. Daar is ook ’n enkelbed in waar ek lê en lees. Wanneer die weer dit toelaat skryf ek buite in my eetbare tuin.

Ek is ’n skrywer

Alhoewel ek oefen en speel met kort stukkies fiksie is my groot belangstelling nie-fiksie. Ek hou van rubrieke, artikels, ondersoekende joernalistiek, geskiedenis, navorsing en debatvoering. Skrywers na wie ek opkyk is Max du Preez, Hanlie Retief, Jaco Kirsten en die Historikus Leopold. Behalwe ware lewensdramas geniet ek die skryfwerk van Nataniël, Dana Snyman, Erns Grundling en Marita van der Vyver se stories oor haar lewe in Frankryk.

Die ander kant van die muntstuk vir my is skryfterapie wat ek al van skooldae af beoefen. Dit is toe genoem dagboek skryf. In my dagboek skryf ek met die hand. Dit help my om dinge wat in my lewe of met my gebeur neer te skryf. Dit is privaat so ek skryf neer hoe ek voel en ook waarvoor ek dankbaar is. My vrese en vreugdes.

Hierdie webblad is nog ’n vreugde in my lewe. Ek geniet dit dat ek kan skryf wanneer en wat ek wil en op my eie terme. Dit het wel ’n rukkie geneem om my eie ritme te vind en die webblad te maak soos ek dit wil hê selfs al val dit nie in die hoofstroom lesers se smaak nie.

Dankie

Langs die pad is daar altyd mense wat jou help en daar was verskeie mense wat my gehelp en aangespoor het. Daar was verskeie onderwysers wat my liefde vir Afrikaans skryf en lees aangemoedig het. Veral my Afrikaans en Engelse onderwysers wat gedink het ek skryf goeie opstelle en mondelinge. Daar was Mnr. Wernich wat vir my Letterkunde gegee het, Mnr. Hanekom, my Afrikaanse onderwyser asook Mnr. Terblanche wat Afrikaanse taal en skryf studies aangebied het. Meneer Terblanche se Ma het langs my Ma gewoon dus het ek hom dikwels raakgeloop selfs jare nadat ek al uit die skool was. Hy was baie gesteld op korrekte taalgebruik en het vir Rapport geskryf in sy vrye tyd. Selfs by die huis het hy suiwer en mooi Afrikaans gepraat.

Wanneer ek Engels en Afrikaans gemeng het of swak Afrikaans gepraat het, sou hy my reghelp en berispe: “Amanda, dis nie hoe ek jou geleer het nie en moenie anglisismes gebruik nie – dit verswak Afrikaans.”!

In my tyd as joernalis het ek ontsettend baie geleer by ander joernaliste en skrywers – elkeen met sy of haar eie skryfstyl. Dit was ’n gratis leerskool.

“Dis nie vir my belangrik om ’n skrywer genoem te word nie. Ek wil eerder ’n storieverteller wees. Afrikaans het te lank gewroeg onder swaar letterkunde wat g’n siel van kop of gat kon uitmaak nie. En daar was te min stories.” – Annelie Botes

Dankie aan elkeen wat by die epos lys aangesluit het, my skryfsels lees, kommentaar lewer en epos boodskappe stuur. Dit beteken vir my baie.

Besoek gerus  ook Toortsie, Elsa beskryf, Una se gedagtes, Scrapydo2, Dr.Christa van Staden.

Lekker lees en skryf.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.