Los ‘n boodskap na die biep
Hierdie prosastuk is
‘n Karakterskets – fiksie
geskryf deur Amanda Spies du Plessis
Omtrent prosa
Die skryf van ‘n fantasie storie in literêre fiksie, algemene fiksie en ontspannings fiksie. Fiksie is nie feitelik nie. Dit kan egter losweg gebasseer wees op ware gebeure.
Tipes prosa
- Blitsfiksie
- Vonk fiksie
- Die kortverhaal
- Kort prosatekste
- Die roman
- Vertaling van prosa
Los ’n boodskap na die biep
Kort na 14:00 Saterdag middag lui die telefoon Marie wakker waar sy op die rusbank ‘n middagslapie neem. Haar oog vang die naam op die skerm: Suster. Deur haar slaap newels druk sy die verkeerde knoppie en weg is Suster. Marie sluimer net weer in toe haar selfoon weer bliep.
Dis ‘n stem boodskap van haar sus. Dalk is dit ernstig dink sy en druk die pyltjie.
Suster se stem vul die ruimte. Welluidend en hartlik.Halo Sus, wat maak jy, hoekom antwoord jy nie jou foon nie? Is jy weer besig met die hanswors oefeninge? Ek het omtrent lekker gelag vir jou hanswors stories. Dis tog te snaaks en klink soos iets uit ’n storieboek. Veral die storie van jou en Jurgen die hanswors van Duitsland het my laat lê van die lag. Kostelik.
Anyway eintlik wil ek net sê geluk met jou verjaarsdag, ek hoop jy geniet jou dag en wees maar stadig met die soetgoed, jy weet mos jy sukkel met die gal.
Voor ek vergeet, Ma het gevra waarom jy deesdae so stil is. Ek het gesê ek weet nie want ek dink nie Ma weet van jou nuwe werk by die sirkus nie en netnou kry sy ’n oorval as ek haar vertel. Dis jou voorreg of eerder uitdaging om haar in te lig. Jy sal moet opskud daarmee. Die papiere vir die sirkus is al opgeplak. Haha. Sterkte daarmee.
Ek mis jou baie, jy is my sonskyn suster, die raakvatter, die omgee mens en my gunsteling hanswors.
Jy was mos altyd die ene wat elke af vlerk voëltjie huis toe gebring het en met soveel sorg vertroetel het. Mense geniet dit om rondom jou te wees. Jy laat mens lag met jou snaakse sêgoed. Pure hanswors. Ek is lief vir jou net soos jy is.
Ek sal nou regtig moet bye sê. Ek is laat vir werk – niks nuuts nie. Pas jouself mooi op en onthou wat Ouma altyd gesê het: Hou die blink kant bo en die stink kant onder. Ek is so baie lief vir jou soos ‘n groot boks Smarties – wot a lot I got. Bye for now
Oja geniet die hanswors dinge en stuur ’n foto van daardie aantreklike hanswors maat van jou.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you