Lees ‘n bietjie

Lees ‘n bietjie en verryk jou lewe. Op hierdie wêreld leesdag wil ek voortbou op die belangrikheid en vreugde van lees.

DIE PRYS VAN LEES

Lees is gratis vir almal om te geniet. Lees maak ons almal gelyk of jy ryk of arm is, jou finansiële posisie maak glad nie saak nie. Selfs al kan die armste mens nie bekostig om ‘n boek of tydskrif te koop nie, is daar orals gratis leesstof – van spreekkamers, vullis dromme ,vis en tjips winkels tot gemeenskap biblioteke. Daar is werklik geen verskoning om nie te lees nie.

LEES ‘N BIETJIE

Ek is ‘n self erkende slaaf van lees. Selfs toe ek bitter klein was het lees vir my ‘n bekoring binnegehou. Saartjie, Wolf ja, wolf nee en Bybel stories was my gunsteling kinderboeke. Ek was ‘n kind in die jare toe daar geen televisie en internet was nie. Lees het vir my ontvlugting gebied in my onsekere tienerjare. Ena Murray se liefdesverhale het my weggevoer na vêr lande met Baronne en avonture. Later jare het ek boeke gelees wat my lewe verryk het en daarmee saam ware stories van mense. Daar is niks wat ek nie sal lees nie. Lees gee kennis en verskaf vermaak.

DIE WONDER VAN LEES

amanda skrywer

Ons het nie materiële rykdom gehad nie, maar ons het tonne boeke gehad. My Ma en albei my susters en natuurlik ekke is ywerige lesers. In my skooljare was ons nie toegelaat om tydens die week boek te lees nie want ons moes leer, maar naweke en vakansies was ons permanent aan die lees. Ek en my susters het wel soms die reëls ietwat gebuig deur ‘n leesboek onder ons leerboek te versteek… ons is wel hier en daar uitgevang deur Generaal Moeder.

LEES TEENOOR VIDEOS

Ek hou van YouTube en die magdom inligting en vermaak wat op die Internet beskikbaar is in video formaat en ek glo daar is ‘n plek en tyd vir albei.

FISIESE BOEK: Volgens my kom niks by ‘n papier boek in jou hand nie. Ek hou van die reuk van die papier, die opkrul op die bank of in die bed met ‘n boek. Stories liefdesverhale en avontuurverhale is die beste in boek vorm. Jy as leser vorm jou eie prentjies van die karakters, omgewing en gebeure deur die woorde van die skrywer en jy raak weggevoer tussen die blaaie. Jou verbeelding kry vlerke deur die skrywer se beskrywings.

VIDEO EN ANDER VISUELE: Dit is vir my heeltemal aanvaarbaar om na video’s en/of foto’s te kyk wat vir jou dinge leer soos byvoorbeeld hoe om ‘n kraan reg te maak of ‘n koek te bak en om die waarheid te sê is my voorkeur vir sulke leersame dinge beslis die visuele.

Wanneer dit egter kom by vertellings en stories verkies ek boeke waar ek self die prentjies in my kop kan teken. Ek hou ook glad nie van stories lees op ‘n tablet nie, dit voel net nie dieselfde as ‘n fisiese boek in die hand nie. Ek lees wel artikels in digitale vorm op die rekenaar.

WêRELD HARDOP LEES DAG

5 Februarie 2020 was wêreld hardop lees dag en ek het my deel gedoen deur by die plaaslike biblioteek vir die jongspan te gaan lees. Die hele idee van hierdie spesiale dag is om kinders aan die lees te kry en hulle bekend te stel aan hierdie wonderlike wêreld wat beskikbaar is vir almal. Dit het my hart verbly deur soveel kinders te sien wat nog daarvan hou om te lees. Daar is egter tonne kinders wat steeds nie lees nie en baie van die ouer mense lees ook nie.

DIE WONDERWêRELD VAN BIBLIOTEKE

Biblioteke is ‘n skatkis van kennis, vermaak en avontuur en dis binne almal se bereik om te ervaar. Ek het grootgeword tussen boeke met die biblioteek my beste vriend. Ek kan ure in die biblioteek deurbring. Ek neem ook graag duur tydskrifte soos die DE KAT uit wat ek nie andersins sal kan bekostig nie. Dit breek my hart wanneer mense sê dat hulle nie lees nie. Hierdie mens mis uit op ‘n wonderlike geskenk. Ek kan my nie ‘n lewe sonder lees voorstel nie.

Kyk gerus na hierdie lys van 10 grootste biblioteke ter wêreld en die 10 kleinste biblioteke ter wêreld.

Wanneer jy ‘n biblioteek betree, betree jy as ware ‘n wêreld op sy eie. Onlangs het ek twee ure spandeer deur net deur my plaaslike biblioteek te snuffel en ek het weereens verstom gestaan oor al die verskillende tipe boeke. Daar is werklik iets vir almal en ‘n magdom Afrikaanse boeke is beskikbaar. Ek lees in beide Afrikaans en Engels.

Komaan lees ‘n bietjie en verryk jou siel en gees.

BOEK BEKENDSTELLINGS

Nog ‘n gratis lees ondervinding is om boek bekendstellings by te woon. Jy hoef niks te koop nie, wees net deel van die ontdekking van ‘n nuwe boek. Dis ‘n ongelooflike ervaring om te luister na die skrywer se vertellings, sy skryf ervaring en idees. Jy sal beslis ‘n ander mens daar wegstap en gereed maak vir die volgende boek bekendstelling.

TWEEDEHANDSE BOEKWINKELS

Dit is ‘n stokperdjie wat ek orals beoefen waar ek kom. Ek kan net eenvoudig nie ‘n 2de handse boekwinkel misloop nie. Dikwels kry mens in hierdie boekwinkels boeke wat al lankal uit druk uit is, ou gunstelinge en boeke waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Indien julle ooit in George vakansie hou, gaan maak gerus ‘n draai by die Blueforest Boekwinkel. Tweedehandse boekwinkels is gelykstaande aan ou skeepswrakke – vol nostalgie, “old world charm” en ongelooflike skatte.

PLAASLIKE SKRYWERS

Ek geniet dit ook om plaaslike skrywers te ondersteun, maak nie saak of dit self publikasie boeke is of tradisionele publikasie boeke is nie. Plaaslike skrywers is meestal goeie skrywers en buitendien plaaslike skrywers is net plaaslik in die dorp waar hulle woon. Daar is ‘n stigma rondom plaaslike skrywers en dis absoluut ongegrond.

BOEKE AS GESKENKE

Volgende keer wanneer jy ‘n geskenk vir iemand wil gee, hoekom nie ‘n boek nie? Skryf ‘n kaartjie met die woorde: Lees ‘n bietjie en verander lewens.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.