Ena Murray – koningin van harte
MY KENNISMAKING MET DIE ENA MURRAY STORIES
Ek was ‘n jong tiener meisie toe ek die eerste keer ‘n boek van Ena Murray gelees het.
‘n Vriendin van my het vir my “Seile op die Horison” in die Letterkunde klas gegee. Ek kon dit leen en lees vir ‘n week. Ek moes die boek tussen my skool boeke huis toe smokkel want ek het ‘n baie kwaai Ma gehad wat ons nie toegelaat het om boeke te lees in die week nie.
By die huis aangekom het ek vinnig middagete geëet en toe ewe soet my huiswerk gaan doen met Seile op die Horison onder my Aardrykskunde handboek. (Oudtste triek in die boek soos hulle sê)
Ek het die eerste bladsy gelees en kon net nie die boek neersit nie. Daardie aand het ek onder my kombers met ‘n flitslig die boek klaar gelees en het ‘n wonder wêreld vir my oopgegaan.
‘n Nuwe Ena Murray aanhanger is gebore.
ENA MURRAY SE LEWE
Sy is op 27 Desember 1936 op Loxton gebore, die middel kind met ‘n ouer en ‘n jonger suster. Sy het matriek geskryf aan die Hoërskool Victoria Wes waarna sy gaan verpleeg het in Bloemfontein.
Ena se liefde vir lees en stories skryf het vroeg in haar lewe begin en sy het reeds as ‘n jong skool meisie begin stories skryf. In die tussentyd het sy verlief geraak en met Boet Murray, ook van Loxton getrou. Haar eerste boek Lise is in 1960 deur JP van der Walt gepubliseer.
Hulle is na 20 jaar geskei en sy het sak en pak na Wilderness verhuis waar sy 2 jaar later met Jacques Mostert getroud is. Ena was ‘n geliefde en welbekende inwoner van Wilderness. Sy het haar skryfwerk voortgesit na haar troue.
ENA MURRAY SE GEWILDHEID
Ena was en is steeds een van die gewildste Afrikaanse storieboek skrywers. Meer as 130 boeke het die lig gesien uit haar pen.
Ena het die vermoë gehad om oor enigiets te skryf. Haar ou Kaapse verhale het haar lesers teruggevoer na die tyd toe die Kaap begin ontwikkel is, die elite en die arm maar hardwerkende mense op mekaar verlief geraak het met struikrowers wat koetse roof en slawe wat die lande bewerk.
Meeste van haar liefdesverhale het ‘n vurige vrou en sterk man bymekaar gebring wat die vonke behoorlik laat spat het. Jy kon jou inleef in haar verhale wat in soveel detail beskryf is. Deur haar woorde het die bladsye en karakters lewe gekry.
Plekkie in die son
Haar boek Plekkie in die Son wat handel oor ‘n vrou wat melaats is, is met ‘n vollengte film vergesel met Jana Cilliers in die hoofrol. Ena het soos altyd haar navorsing vir hierdie boek uitmuntend gedoen en selfs tyd in ‘n kliniek vir melaatses deurgebring om ‘n egtheid en menslikheid aan die pleit van melaatses en die stigma daaromtrent te bring.
Baie van haar boeke het in verafgeleë eksotiese plekke afgespeel en volgens haar het sy haar oë toegemaak en haar vinger op ‘n plek gedruk, haar oë oopgemaak en dan begin navorsing oor die spesifieke plek doen want dit sou die plek wees waar haar nuwe verhaal sou afspeel.
EKSTRA
- Sy het deeglike navorsing gedoen vir elke boek wat sy geskryf het en dit moes ongelooflike werk en tyd gevat het om dit te doen. Dit was voor die Internet en die digitale ontploffing.
- Ena het nie enige van die lande besoek waaroor sy geskryf het nie
- Sy het geen biologiese kinders gehad nie
- Ena het haar boeke op ‘n mieliepit tikmasjien geskryf
- Sy het later van jare kroniese rug probleme ontwikkel a.g.v. Die jare van sit en skryf
- Ena het op 4 Junie 2015 in ‘n aftree oord in Mosselbaai gesterf
- Sy het van haar skryfwerk aan skryfster Ella Spence gestuur wat haar raad en ondersteuning gegee het.
- Benewens die liefdesverhale waaroor sy so passievol was het sy ook ‘n paar geestelike boeke en ‘n digbundel geskryf.
- Ena het meestal snags na 1 begin skryf en vir 12-14 ure per dag geskryf.
- Vrou uit die nag en Plekkie in die son is albei verfilm.
- Verskeie van haar boeke is in groot druk uitgegee asook in Braile.
- Sy het in 1996 opgehou met skryf nadat sy met artritis gediagnoseer is
- Rooi Rose het verskeie van haar kortverhale gepubliseer
- Reenboog van koraal was ‘n voorgeskrewe boek vir skole.
- Sy het twee miskrame gehad.
- Haar Pa was ‘n plaaslike Dokter en sy het hom dikwels op huis besoeke vergesel en so baie mense kennis opgedoen en baie stories gehoor en deur ander se seer en swaarkry het sy empatie en simpatie met mense ontwikkel.
- Ena was ‘n ewige romantikus wat nooit opgehou het om in die liefde te glo nie
- Sy het nooit op ‘n Sondag geskryf nie.
LESSE UIT ENA MURRAY SE BOEKE
Terug na Kolkbaai: Baie huislike probleme spruit uit ledigheid.
Tonge van Vuur: Dis goed om skaam te kry.
En die verlange bly: Leef ordentlik en eerbaar
Die Dae van ons Nietigheid: Dis net iemand wat self die bodem van ‘n smartput bereik het wat begrip kan hê vir ander se smart.
Die Gesin Verduin: Partykeer vind ‘n mens eers uit waneer jy iets kry wat jy altyd wou gehad het, dat dit glad nie so wonderlik is as wat jy jou verbeel het nie- dat dit glad nie is wat jy van die lewe wou hê nie – en dan is die prys te hoog.
Heerser van die Quinta – As daar liefde in jou hart is, word ‘n pandokkie ‘n paleis
Oos na die Son: Ons sit dikwels met ‘n skat in ons besit en ons soek daarna op ander plekke. Ons gaan dit waarna ons soek, nooit kry nie en dit wat ons het verloor.
Onrus op Oshakati: Iewers, erens in die maalkolk van die dolle gejaag na eie eer en roem, verloor ons die regte sin vir waardes.
Verwonde jare: Moet nooit voorgee wat jy nie is nie. Een of ander tyd word jy uitgevang.
Maddie: Maak nie saak hoe jou ouers is nie, hoe sleg hulle miskien in jou oë is nie, hulle bly jou ouers.
IN HAAR EIE WOORDE
“Ek het nog nooit probeer om ’n letterkundige werk te skryf nie. Dit is nie my terrein nie. Ek ken my beperkinge. Ek skryf vir die gewone mens. Vir die vrou wat miskien ook nie veel meer as matriek het nie. Of dalk ’n graad het, maar nou ’n paar kleintjies het om groot te maak. Ek skryf in my eie praattaal, wat almal verstaan.” (Sarie, 3 November 1986)
“Ek wil altyd beheer hê oor my karakters. Ek wil nie sukkel om dié spul te ontknoop nie. My lesers moet happy wees dat die regte mense by mekaar uitkom.”
Wat het haar geïnspireer om te skryf? “Inspirasie is volgens my daardie moment wanneer ’n tema vir ’n nuwe verhaal in my deurkom en dit kom van Bo. Die res hang suiwer van jouself af of jy iets daarmee gaan maak.” (Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2001)
“Skryf is vir my werk en plesier. Ná ek inspirasie ontvang het, is dit bloot harde werk wat volg en self-dissipline. As jou navorsing gedoen is, wat werk is, en jou tema uitgewerk is wat ook werk, of kopwerk, is, is dit soos die inkleurprentjie van ’n kleuter. Alles is daar. Jy moet dit net met woorde inkleur en dis lang, harde ure van volkome konsentrasie. Maar op die end van elke dag is dit ook onbeskryflik bevredigend.” (Kaapse Bibliotekaris, Mei/Junie 2001)
Sy het in die liefde geglo
“Ek glo in wat ek skryf. Ek glo in die liefde. Niks wat in my boeke gebeur, is heeltemal onmoontlik nie – ek en my man Jacques leef dit elke dag uit.” (Sarie, 18 Januarie 1985)
In 1982: “Ek glo nie ’n vrou moet in die skadu van ’n man staan nie. ’n Vrou is ’n ontwikkelde mens en man en vrou moet mekaar in ’n huwelik bystaan en wedersydse respek vir mekaar hê. ’n Mens se opinie verskil soms, maar jy moet respek vir mekaar se sienswyses hê.”
“Liefde is nie altyd rosegeur en maneskyn nie. Die liefde vra baie vergifnis. As jy nie kan vergewe nie, moet nooit trou nie.” (Huisgenoot, 29 Julie 2004)
“Die jare dat ek geskryf het, het ek nooit boeke gelees nie. Ek was te bang dit gaan steen vas in my onderbewuste en kom dalk later in my boeke uit, dan dink mense ek het hule werk gesteel.” (Huisgenoot, 29 Julie 2004)
Sy het deeglike navorsing gedoen
“Die bibliotekaresse het ook by die streeksbiblioteek vir my boeke bestel. Ek het my betroubare Colliers-ensiklopedie gebruik en by kenners kers opgesteek. Vir die stories oor kunsmatige bevrugting het ek ’n afspraak met ’n ginekoloog gemaak – hom sy professionele fooi daarvoor betaal! – al die jongste inligting só verkry. As ek oor ’n onbekende plek wou skryf, het ek brosjures en kaarte by reisburo’s gekry. Ek het op ’n keer ’n brief van ’n aardrykskunde-onderwyseres gekry wat my gelukgewens het met my boek, Maanlig oor die amasone, omdat die geografiese gegewens daarin so korrek is.” (Die Lig)
“My skryfwerk is vergoeding vir die kinders wat ek nooit kon hê nie. Dis ’n bevredigende gevoel om jou sê te sê. Niemand kan jou terug antwoord nie, dis dié dat ek nooit nodig het om met my man te baklei nie. Ek is saans moeg gebaklei met my karakters!”
“Vir die jonges vandag gaan dit baie oor seks en chemistry. Jy moet verby die seks kan kyk. Dit is beter om stadig verlief te raak. Vorentoe gaan seks in elk geval afgewater raak!” “Ek is nie preuts nie, maar ek hou nie van boeke wat seks in detail beskryf nie. As dinge begin warm raak tussen my held en heldin, tik ek kolletjies.” (Huisgenoot, 29 Julie 2004).
Oor sukses sê sy met haar kenmerkende nederigheid: “Wanneer ek sien een van my boeke is bo-aan die topverkoperlys, sê ek vir myself: ‘Dis alles net genade’.”
HULDE BLYKE
Etienne Bloemhof, die hoof van NB-uitgewers se fiksie-afdeling, sê: “Ena se werkywer was ongekend. Sy het oor die jare gereeld haar hele oeuvre hersien, en daardie werk sal bly voortleef, onder meer in die huidige Ena Murray Keur-reeks wat sy self georden het. Sy was ’n uitsonderlik nederige en godsdienstige mens, iemand wat haar morele waardes gelééf het. Wat my van haar altyd sal bybly, is haar meelewing, dat sy sonder uitsondering altyd eerste na ander se welstand sou verneem, sodat die fokus nooit moes wees op haar eie omstandighede nie. Haar soort kom net een keer in ’n leeftyd verby.”
George Louw, =verhaleredakteur Huisgenoot het nooit een van haar verhale van die hand gewys nie. “Haar verhale het uitgestaan. Ek weet nie wat dit is wat haar so gewild gemaak het nie. ’n Mens sou dit seker ’n X-faktor kon noem.” (Huisgenoot, 29 Julie 2004)
“En haar basiese ordentlikheid as méns wat in haar karakters herhaal word. Sy het nie bloot begrip vir die genre van liefdesverhaal nie, sy leef in die genre. Haar karakters is doodgewone, maar goeie mense wat met die wreedhede van die lewe gekonfronteer word. Bitter min skrywers sal, soos Ena, temas soos kindermolestering en prostitusie aanpak. Die Afrikaanse mark is baie ontvanklik vir sulke verhale, maar dit verg ’n Ena Murray om sulke temas oortuigend te ontgin sonder om genrelesers gekul te laat voel. Dis veral haar eerlikheid en deernis wat die deurslag gee.” (Die Burger, 11 Maart 2010) Jaybee Roux
MY BESKEIE HULDEBLYK
Ena Murray se stories het aan hierdie kaalvoet kind se hart geraak soos geen ander nie. Ek was ‘n baie eensame tiener wat ontvlug het uit my onseker aleen wêreld na ‘n wêreld van liefde en aanvaarding met pragtige plekke en mense.
Ena Murray het ‘n unieke skryfstyl gehad en haar boeke sal voortleef deur haar talle aanhangers. Dankie Ena vir jare se leesgenot.
Na ons heerlike geselsie oor Ena Murray kan jy ook lekker lees aan So jy dink jy wil ‘n ster wees en ook ‘n Lewe van dankbaarheid
BRONNE
Plekkie in die son
http://www.humanrousseau.com/Books/12439
Ena Murray IMDB
https://www.imdb.com/name/nm7508150/
Deur Ena se bril
Hardeband 1989 Lux Verbi
NB Uitgewers
http://www.nb.co.za
Suid Afrikaanse skrywers
http://skrywers.blogspot.com/search/label/Ena%20Murray
Ena Murray
https://www.litnet.co.za/ena-murray-1936/
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you