Kersfees tyd
Dis Kersfees tyd
Dis ongelooflik om te dink dis alweer Kersfees tyd. Dit voel dan soos gister wat ek die Kersboom opgeslaan het, my huis versier het en ‘n klomp klein geskenkies onder die kersboom gesit het vir my kleinkinders.
Kersfees is spesiaal
Dwarsdeur my lewe was Kersfees nog altyd spesiaal in ons familie. My Ma het altyd gesorg vir tafels wat kreun onder bakke kos, geskenke wat kleurvol toegedraai is en onder die beligte Kersboom lê.
Toe ons kinders was het ons altyd Oukersaand eers die geboorte van Jesus opgevoer en halleluja liedere gesing. Daarna het ons lekker peusel happies geëet en dan die groot oomblik: Geskenke oopmaak.
Nostalgie
Die lewe was baie eenvoudiger toe ek ‘n kind was. Ek het my eerste radio met tape kombinasie gekry toe ek Standerd 8 was. Dit was ‘n onvergeetlike ervaring en geskenk. Voor dit moes ek altyd wag vir my beurt om die radiogram te speel.
Kersfees 1970 was ek 5 jaar oud en my Pa skaars 3 maande dood. My Ma het steeds vir ons ‘n Kersfees gegee om te onthou. Sy het vir my en my suster elkeen ‘n Bybel gegee en vir my ‘n baba pop met ‘n speel melk en vrugtesap bottel. Ek het haar Ronel gedoop en sy was dag en nag aan my sy en ek het haar steeds.
Kersfees as grootmens
My eerste Kersfees weg van die huis af was in 1984 toe ek my loopbaan as Polisievrou begin het. Die nuwes moes werk terwyl slegs die Polisie mense met kinders verlof mag kry oor Kersfees.
Twee jaar later is ek getroud en nog 2 jaar later het ek my eerste kind gehad en 2 jaar later nog enetjie. Ons het om die beurt Kersfees by ons families deurgebring totdat my man in 1993 oorlede is. Dinge het daarna weer verander. Elke tweede jaar was ek en my ma aleen Kersfees met my kinders en die volgende jaar was die huis vol met my suster en haar familie. Dit was dan baie lekker met laataand kuiers en kaart speel.
Kersfees bly verander
Dis een ding wat ek deur die jare geleer het. Die lewe bly verander en so ook Kersfees. Soms is die huis vol mense ander kere is dit net ek en my ma in haar ouetehuis kamer oukersaand. My ma versier steeds haar kamer in die ouetehuis. Oukersaand is nou stil en rustig en nadat ons geskenke uitgedeel het ry ons deur die strate en kyk die kers liggies
Kersfees is steeds spesiaal en tyd vir pragtige versierde kersbome met liggies en geskenke onder die boom.
DAAR IS MEER
Ek hou daarvan om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Dit laat jou tevrede wees met wat jy het.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you