Ek is ‘n misdaad statistiek

Ek is ‘n misdaad statistiek en dis geen grap nie. Ek is baie sekuriteits bewus en neem nie onnodige kanse met veiligheid nie. Juis daarom het dit my vir ‘n 6 geslaan. Dalk moet ek by die begin begin.

In die laaste week van September hierdie jaar het ek by my sussie in Pretoria gaan kuier en het op 5 Oktober teruggevlieg huis toe. Ek het om 09:15 by my huis aangekom en toe ek die deur wou oopsluit let ek op dat die voordeur en traliehek se slotte oopgebreek is. Versitig het ek die deur oopgestoot en my verskrikte 17 jarige hondjie Millie op ‘n stoel sien sit en bewe. ‘n Vreemde gevoel het oor my gespoel. En toe sien ek my polisie wapen op die vloer lê. Die sideboard se deure oop. Ek en Millie kyk vir mekaar en eers toe ek haar roep reageer sy en kom na my toe. Ek het steeds my tas in my hand. Millie spring teen my op en tjank saggies. Sy is ongedeerd.

Ek is 'n misdaad statistiek

Ek is nou deel van die misdaad statistiek

En toe ek opkyk sien ek al die kamerdeure is oop en ‘n verlammende gevoel kom oor my. Met Millie in my arms stap ek die kombuis binne. Op die vloer lê die gevriesde goed uitgegooi met swartsakke reg vir inpak. Ek haal diep asem. Daar is by my huis ingebreek.

Vir ‘n paar minute staan ek in stilte met Millie in my arms. Dan tree die oud Polisievrou in my navore. Eerste bel ek my vriendin wat na Millie gekyk het terwyl ek weg was. “Wanneer was jy gisteraand hier om vir Millie kos te gee?” Sy kan my presies die tyd gee: 18:03 nm. Haar foon het gelui net toe sy in die motor geklim het. Die tydlyn se begin 18.03 en einde 09.15 is in plek. Dan word die Polisie en die Buurtwag gebel. Terwyl ek wag vir die wetstoepassers doen ek navrae by die bure of hulle dalk iets vreemds by my huis waargeneem het. My buurvrou aan die regterkant het Millie om 07.30 gehoor tjank en die buurman aan die anderkant se hond was van 03.30 baie onrustig en kon nie tot rus kom nie.

Die res van die dag is daar ‘n warboel van mense wat in en uit my huis kom en gaan. Polisie, Vingerafdruk deskundiges, Tientalle buurtwag lede en die Speurders. Die inbrekers het duidelik by die voordeur ingekom en het by beide die skuifdeur en die agterdeur uitgegaan. Vier uur die middag kan ek eers begin om die talle gebreekte slotte te vervang en voorraad opname te doen. Die Hifi en twee boks televisies is steeds daar. Die yskas en vrieskas goed is als daar al is dit op die vloer uitgegooi. Die kamers is in chaos. Kaste is uitgegooi. Selfs die bokse met legkaarte. Daar is die meeste skade in my kamer aangerig. My juweelkissie is weg. So ook my trouring en ‘n spesiale horlosie wat ek by my skoonma gekry het. Onvervangbare sentimentele dinge. Al my kostuum juwele en selfs my haarbande.

Die spaarkamer word my en Millie se kamer vir die aand. My kamer voel onveilig.

Die volgende oggend begin ek opruim. Ek begin in my slaapkamer. Op my bed kry ek ‘n onbekende pet. Dit ruik na dagga en drank. Ek bel die speurder en hulle kom haal dit vir DNA toetse. Dis ‘n aaklige gevoel om so na aan die misdadigers te wees. Ek kan nie weer in my kamer slaap nie. Oor 2 dae dra ek my persoonlike dinge oor na die spaarkamer en my (nou vorige) slaapkamer word ‘n speelkamer vir die kleinkinders.

Die vreemde ding omtrent die inbraak is dat ek nie ‘n huishulp of tuinwerker het wat kon inligting uitgee nie. Ek het ook nie als wat oop en toemaak in my huis nie. Volgens die Speurder was daar ongeveer 3 mense in my huis en is hulle waarskynlik gesteur in hulle plundertog. Vandaar die onaangeraakte yskas en vrieskas goed. Dalk toe die buurvrou haar deur oopgemaak het om te hoor hoekom Millie so tjank of dalk het hulle laat spaander toe ek by die huis aangekom het. Koue rillings.

Genade onbeskryflik groot

Volgens die Polisie was die inbraak by my petty crime en nie die werk van ‘n sindikaat nie. Niemand is beseer nie. Die skade is meer emosioneel en sentimenteel as finansieël. My veilige gevoel is weg. My privaatheid geskend. Ek het skuldgevoelens oor wat Millie deurgemaak het alleen saam met die skurke. Ek sukkel tans met angs en slapeloosheid en ek en Millie bly naby mekaar. Diep asemhaal Amanda. Jy is een van die gelukkiges. Ek is dankbaar dat ek en Millie gespaar is asook my vriendin wat haar versorg het in my afwesigheid. Steeds soveel om voor dankbaar te wees. Dankie Here vir die genade.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.