Dis ‘n begin en einde
Joernaal
Dis ‘n begin en einde met ‘n nuwe jaar na die einde van die vorige jaar. Dit verwar my ook. Stoomroller laaste deel van die jaar. Januarie tot September 2022 was heel rustig en het volgens beplanning verloop. My beplanning vir die jaar altans. Huis, tuin en skryf projekte. En toe gebeur dit.
Een sonskyn oggend in Oktober was ek besig met my dagtaak toe die foon lui. “Amanda dis Ma” sê my suster. My Ma wat in ’n ouetehuis gewoon het, was ernstig siek en ek moes gaan help. Dit was die dag wat al my projekte tot stilstand gekom het. Sedertdien is dit hier vat en daar los en heen en weer Swellendam toe ry om te gaan help met my Ma.
Sy woon nou voltyds by my suster op hulle plaas. Sy is 85 jaar oud
Ek is op ‘n gereedheidsgrondslag om uit te help wanneer hulle wil weggaan vir ’n naweek of wanneer twee of drie koppe nodig is vir sensitiewe besluite. Kersfees was veral uitdagend met ’n siek en swak Ma. Vakansieplekke was reeds bespreek en betaal in verskillende dele van die land. Alles moes verander en aangepas word. Op die ou einde was ons almal saam in Gansbaai met vakansie. Die eerste keer in baie jare.
Dis nou ’n nuwe jaar en tog voel dit nie heeltemal so nie. Dinge is baie wisselvallig en onseker en niks kan vooruitbeplan word nie. Met tye is my Ma op en aan die gang alhoewel met ’n slakkegang. Ander kere lê sy heeldag in die bed. Tussendeur het ek en my twee susters ons eie huishoudings en lewens en kleinkinders wat ook aandag nodig het.
Ons probeer die beste van ’n moeilike situasie maak.
Dinge het in ’n oogwink verander. Die laaste 3 maande van 2022 was uitdagend om die minste te sê. Ek persoonlik sukkel met tye om te fokus op wat ek moet en wil doen. Dinge (soos hierdie webblad) is afgeskeep terwyl ek moes fokus op ander meer belangrike dinge. My tuin is oorgroei en my huis deurmekaar.
Met die aanbreek van die nuwe jaar is daar egter nog baie om voor dankbaar te wees. Ons enkelouer Ma is nog met ons al is sy nou ’n skaduwee van die sterk onafhanklike vrou wat sy eens was – die hardkoppigheid is wel nog teenwoordig. My jongste suster het vroeg in 2023 vir die eerste keer Ouma geword van ’n dogtertjie. My jongste kleinkind is vir die eerste keer skool toe. Die eerste bewoners het hulle intrek in my selfgemaakte dammetjie in die tuin geneem en my Cherry brandy tee bos is in blom.
elsabeskryf
28 February 2023 at 10:35 amEk sit hart en siel saam met jou in jou skrywe. Pa 97 en ma 90 in my huis. Dankie dat jy sus so ondersteun en op standby is. Ek het dit nie altyd nie… dis altyd ‘n gestoei met ander kinders. Dit maak mens se las nog swaarder. Dit is moeilike goed, en geen dag is dieselfde nie. Groot liefde en genade toegebid vir sus en vir jou.
Amandaskrywer(Aduppie)
28 February 2023 at 3:24 pmElsa ja dit is nie aldag maklik nie. My ander suster woon aan die anderkant van SA en help ook waar sy kan. Die meeste van die werk kom egter op my Ousus neer. Sterkte ook vir jou Elsa en die geduld, genade en liefde wat versorgers nodig het.