Is sendelinge se dae getel?

is sendelinge se dae getel

Is sendelinge se dae getel in hierdie tyd waarin mense al hoe meer hulle eie kultuur aanhang en beskerm? Al hoe meer mense kom in opstand teen sendelinge wat hulle lewens wil verander.

Lewensroeping

Deur die jare het verskeie mense geglo dat hulle geroep is om die Woord van die Here te verkondig aan diegene wat nog nie van God gehoor het nie. In ons gemeente was ‘n egpaar wat vir jare in die Midde Ooste die Woord verkondig het. Ander het weer Bybels gesmokkel na alle uithoeke van die aarde.

Wat my gepla het

Soos genoem was ‘n egpaar van my gemeente in die Midde Ooste met sendingwerk doenig. Die Polisie het toegeslaan en hulle het gevlug terug Suid Afrika toe. Verskeie van die mense wat deur hulle bekeer is, is egter aangekeer, aangekla en gevonnis tot harde hande arbeid. Ek was tydens hierdie voorval betrokke in familie bediening en tydens een van ons vergaderings het ek gevra wat ons doen om hierdie mense te help.

Ons bid vir hulle

Dit was die antwoord op my vraag. Ek het nog nooit sendingwerk in ander lande gedoen nie – net vir duidelikheid. Dit het my egter onrustig gestem dat ons mense in ander lande ingaan en hulle wette verontagsaam en hulle mense dan blootstel aan brutale vervolgings terwyl ons mense dan weer terugkeer na Suid Afrika. Ek het egter ook geworstel met die opdrag in die Bybel dat ons moet uitgaan en ander van God moet vertel. Hoe bring mens dan die twee bymekaar uit?

Daar was ook ander dinge wat gepla het

‘n Ander sendeling egpaar was in my selgroep. Ons het hulle geldelik en emosioneel ondersteun. Een aand het hulle vir voorbidding gevra vir hulle ouers wat na die egpaar se 3 kinders omgesien het terwyl hulle vir maande weg was. Ek was verstom om te verneem dat die egpaar hulle kinders twee keer ‘n jaar gesien het. Hulle was besig met die Here se werk, was die egpaar se redenasie.

‘n Praaitjie by die kerk het vertellings opgelewer van die bou van kerke, bybels uitdeel en bekerings – pragtige getuienisse.

Is sendelinge se dae getel?

Dit wil egter voorkom asof sendelinge nie meer so welkom in gemeenskappe is nie. Die mense beweer hulle kulture word vernietig. So ook word bewerings gemaak van fals profete wat die mense misbruik vir geldelike gewin. Indigenous Tribes Push Back Against Evangelical Missionaries is ‘n video wat handel oor sendelinge in die Amasone en hoe die inwoners beswaar maak.

Wat is reg en verkeerd? – Waar is die balans? – Het ons as Christene die reg om ander se lewens in gevaar te stel en ander lande se wette te verontagsaam? Het Christene ‘n plig om ander na die Here te lei? Is bid genoeg vir mense wat deur ons toedoen in die tronk beland het?

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.