Die genade van kalm bly

die genade van kalm bly

Dis nie altyd maklik om kalm te bly wanneer jou regte vertrap word nie. Dis net menslik om jouself te wil verdedig. Die genade van kalm bly is ‘n seëning.

Dit neem oefening

Jare gelede het die sanger Cliff Richard vertel hoe hy geleer het om kalm te bly wanneer joernaliste, onderhoudvoerders en gewone mense persoonlik raak. Hy word gesien as een van die gaafste vermaaklikheid kunstenaars en een wat koel soos ‘n komkommer is tydens onderhoude. Hy maak egter geen geheim daarvan dat dit ‘n doelbewuste besluit is nie. Hy vertel hoe hy een keer oor sy seksualiteit uitgevra is op ‘n lewendige TV uitsending en hoe hy later fisies op sy hande gesit het terwyl die gasheer hom gepeper het met persoonlike vrae. Tussendeur het hy egter nie sy kop verloor nie en sy selfbeheersing behou.

Dis nie maklik nie

In my jonger dae het ek terug geskree. Ek het egter deur die jare geleer dat jy ontsenu mense wanneer jy kalm bly terwyl die ander hulle waardigheid prysgee. Jy voel in beheer wanneer jy kan kalm bly wanneer iemand jou slegsê, in jou karakter inklim en/of persoonlike aanvalle doen – veral waar ander mense by is. Ek herinner myself altyd daaraan dat ek nie hoef reg te wees en dit te wys nie. Dit het egter tyd geneem om aan te leer hoe om kalm te bly. Deesdae mediteer ek eerder of skryf in my joernaal.

Jy kan daal tot hulle vlak

Jy is in beheer van jou emosies maak nie saak hoe erg jy uitgelok word nie. Sê byvoorbeeld jou vriendin Anna hou aan om jou sleg te sê en swart te smeer by jou familie en vriende. In ‘n oomblik van woed slaan jy haar met ‘n klip dood. Die uiteinde is dat jy dan ‘n misdaad gepleeg het en tronk toe gaan terwyl Anna die slagoffer word en al die simpatie kry.

Deur kalm te bly in stresvolle situasies bly jy in beheer.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.