Woorde wat reg klap
Woorde wat reg klap – soms is ‘n paar woorde en in my geval slegs vier woorde nodig om jou te laat herbesin en die oorbegin knoppie te druk.
AMANDA DIE TIENER
My tienerjare het rebels begin en ek was opstandig teenoor my Ma, my onderwysers en die wêreld. Ek het ‘n baie kwaai Ma gehad met gepaardgaande min vryheid. Ons moes skool toe gaan, dan huistake doen want ons het nie ‘n huishulp gehad nie en ons was nie toegelaat om rond te lê in die strate nie.
DIE KOSHUIS
My vriende se ouers was nie so streng nie en ek het hulle beny so ek het al meer gerebeleer teen my Ma se gesag. My Ma het besluit om my in my St. 6 jaar koshuis toe te stuur sodat ek bietjie ‘n ander kant van die lewe kan ervaar en vir my was dit ‘n fees. Ek het eintlik baie vryheid gehad. Twee keer ‘n week kon ons dorp toe gaan. Ek het sportbyeenkomste bygewoon en naweke ingebly sodat ek saam met die kinders kon kuier.
EK WOU NIE LEER NIE
Die koshuis het my meer vergenoegd gemaak met my huislike omstandighede en leer was glad nie hoog op die agenda nie. Ek het meer gekuier as geleer. Ek het nie drank en dwelms gebruik nie maar die vryheid in die koshuis was vreeslik lekker. Dit het gevoel of ek uit ‘n tronk ontsnap het. My vreugde was egter van korte duur. Teen die einde van St.6 het my Ma besluit genoeg is genoeg en besluit dat ek moes terug kom huis toe. Nou was ek eers rebels.
TERUG IN DIE TRONK
Ek het St. 7 in ‘n nuwe skool in my tuisdorp begin nadat ek in St.6 deurgesit is. Weerbarstige, opstandige Amanda het besluit dat ek my Ma sou wys dat ek nie sal leer nie. My Ma het gepleit en gesoebat, geraas, gedreig en gewaarsku dat as ek so aangaan sou ek die kans staan om te druip. Ek het haar waarskuwings afgelag en voortgegaan op my pad van selfvernietiging.
WOORDE WAT REG KLAP
Ek onthou die dag nog soos gister. Ek was by die dorpswembad en met my terugkoms by die huis het my Ma vir my ‘nn koevert in die hand gestop. Binne in was my jaareinde rapport. Die woorde:
Amanda druip St. 7
Dis ‘n fout het ek gegil. Dit kan nie wees nie. Ek het nooit, ten spyte van al my Ma se pleitdooie en waarskuwings gedink dat ek kon druip nie. Dit was volgens my net eenvoudig nie moontlik nie. Die volgende dag het dieselfde woorde steeds op dieselfde plek gestaan.
EK KAN NIE
Nadat die realiteit ingesink het, het ek by my Ma gesmeek om my in ‘n ander skool te sit, maar ek was gedwing om terug te gaan en die wêreld, die skoolkinders, die onderwysers, my familie en vriende in die oë te kyk. My Ma het nie met my geraas oor die rapport nie, maar het net gesê dat mens nie kan weghardloop van jou probleme af nie en dat dit van my gaan afhang wat ek verder van my lewe gaan maak.
‘N NUWE BEGIN
Ek het die nuwe skooljaar nuut begin en skielik kon ek dinge helderder sien en met die tyd het die opstandigheid verdwyn en het ek begin leer. Ek het gesorg dat ek nooit weer druip nie, nie eers een vak nie en het matriek gemaak saam met al die ander kinders. Daarna is ek Polisie toe.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you