Corona dagboek Week 4
Corona dagboek week 4: Sondag 5 April 2020 tot Sayerdag 11 April 2020
Sondag 5 April 2020
S.A. Infeksies: 1655 Sterftes: 11
Vandag is die eerste dag wat ek so bietjie af voel en dis nie omdat ons ingeperk is nie alhoewel dit seker ‘n bydraende faktor is. Dit was net ou wonde met mense na aan my wat weer oopgekrap is. Soos altyd het ek myself toegelaat om bietjie hartseer te wees daaroor voordat ek weer opgestaan het en aangegaan het met my dag se dinge. Ek wou eintlik vandag bietjie gewerk het onder die afdak maar dit was redelik stil in my buurt en daarom het ek toe besluit om dit liewer ‘n rustige Sondag te maak met ‘n heerlike gekookte ete vir myself en bloubessie roomys vir nagereg. Heerlik!
DANKBAAR
- Die grou grys wolke wat belofte toon vir reën
- Millie my getroue hondemaat van 15 jaar
- Die vrolike helder geel blomme van my buurman wat oor my heining hang
Maandag 6 April 2020
S.A. Infeksies: 1686 Sterftes: 12
Ons is nou amptelik in die helfte van ons nasionale lockdown en sover gaan dit eintlik heel goed. Ek het vandag vir my ‘n tuinwerk tafel (potting table/station) gebou. Dit was harde werk en dit het my heel oggend besig gehou. Half 2 vanmiddag het die lug toegetrek en het dit begin reën. Ek het sommer dadelik ‘n pot groente sop op die stoof aanmekaar geslaan. Daar is mos niks so lekker soos groentesop op ‘n reëndag nie behalwe natuurlik pannekoek met kaneelsuiker. Hoe gaan dit met julle almal in lockdown? Dis altyd lekker om van julle te hoor.
DANKBAAR
- Reën, reën lieflike reën
- Tuisgemaakte groentesop op ‘n reëndag
- Saadjies wat deur die grond breek – my radyse het hulle eerste blaartjies gewys
Dinsdag 7 April 2020
S.A. Infeksies: 1749 Sterftes: 13
Die reuk van vars gebakte beskuit het vandag my huis gevul. Weens die koue nat reënweer het ek besluit om vandag beskuit te bak – kaneel beskuit en ook gesondheidsbeskuit. Vanaand het ek twee blikke vol lekker tuisgebakte beskuit – hemels.
DANKBAAR
- Vars tuisgebakte beskuit
- Vroegoggend koffie in my voortuin saam met Millie
- Dokters en verpleegsters wat hulle eie lewens in gevaar stel om ander te help
Woensdag 8 April 2020
S.A. Infeksies: 1845 Sterftes: 18
Die reën het plek gemaak vir ‘n volmaakte sonskyn dag wat my die geleentheid gegee het om my nuwe potting tafel te verf en sommer ook die draad tuintafeltjie en sekere fokuspunte. Ek het eers teen half 5 klaar gekry met alles. Dis altyd vir my lekker om iets te restoureer of iets van vooraf te bou. Dit gee my die gevoel van sukses. Daarna het ek vir myself die lekkerste spaghetti met spinasie, hoender en feta gemaak. Na ‘n dag se harde hande arbeid het die kos afgeglip by my keel.
MY MA
Dit gaan nog goed met my ou gryse moedertjie in die ouetehuis. Hulle is nog veilig en COVID 19 het nog nie daar ‘n draai gaan maak nie. Die ou mensies het almal die 2020 griep inspuiting gekry wat hulle darem beskerm teen seisoenale griep.
DANKBAAR
- Ek is dankbaar vir alles wat ek vandag gedoen gekry het.
- Dankbaar vir ons regering wat so vinnig opgetree het om COVID19 hok te slaan
- Ek is dankbaar vir my Ma wat ons alleen groot gemaak het. Sy is kosbaar.
Donderdag 9 April 2020
S.A. Infeksies: 1934 Sterftes: 18
Die President het vanaand ‘n ekstra 2 weke van lockdown aangekondig en ek persoonlik dink dit is die regte ding. ‘n Mens hoef net te kyk na die statistieke van lande soos Amerika, Britanje, Italië en Frankryk wat te lank gewag het en nou met groot sterfgevalle en infeksies sit terwyl lande soos Suid Korea en New Zeeland lae getalle het omdat hulle betyds opgetree het. Dit is beslis nie lekker om dag in en dag uit in isolasie tuis te sit nie, maar ek doen dit eerder as wat ek of die mense vir wie ek lief is, ernstig siek word of sterf.
Dorp dag
Dit wil voorkom asof Donderdae nou my dag is om my weeklikse inkopies te doen tydens die lockdown periode. Vandag was ek Checkers toe en ek moet sê dat winkel uitstappies nie meer so lekker is nie. Die nie – essentiele produkte is toegeplak en die atmosfeer is relatief somber behalwe die kafee naby my huis. Daar is ‘n meer opgewekte atmosfeer te bespeur. Hierdie is beslis ‘n anderse tipe paasnaweek. Ten minste kan die paashaas nog vir die kleingoed eetgoed aflewer. Geseënde paastyd vir julle almal.
Vrydag 10 April 2020
S.A. Infeksies: 2003 Sterftes: 24
Soos die afgelope week het ek weer hard gewerk om my tuin op te knap by my skuifdeur. Ek kon vandag begin met die uitleg en bietjie mooi maak. Elke dag wanneer ek my vordering sien, voel ek hoe die goedvoel hormone deur my liggaam bruis. Ek sukkel deesdae om dwarsdeur die nag te slaap en nou weet ek nie of dit te wyte is aan COVID19 of die oorgangsjare nie.
DANKBAAR
- Vir elke dag se krag om my projekte aan te pak en klaar te maak tydens lockdown.
- Ek sê dankie vir verf wat als opkikker
- Dankie vir country musiek
Saterdag 11 April 2020
S.A. Infeksies: 2028 Sterftes: 25
Vandag moes ek myself dwing om die tuin se uitleg klaar te maak en als op te ruim sodat ek Sondag kan rus. Ek het hard gewerk hierdie week en verdien ‘n afdag. Elke nou en dan stap ek buite toe om my handewerk te bekyk en dan is ek opnuut trots op myself. Nou moet daar net baie blomme en kruie groei en natuurlik groente. Oja en toe maak ek sommer ook ‘n peperment crisp tert vir more saam met my kookkos. Dis mos paas Sondag more.
DANKBAAR
- Caramel kondensmelk – nou hoef ek nie meer ‘n blikkie kondensmelk vir 3 ure te kook nie
- Blomme in alle vorms en kleure.
- ‘n Skoon, netjiese skuifdeur tuin
Fop Nuus
Fop nuus en skelmstreke rakende die Corona virus is orals en ons moet versigtig wees en nie sommer enige ding glo en aanstuur nie. Daar is ‘n klompie gesaghebbende webblaaie wat nie fop nuus versprei nie.
- Die WHO (World Health Organisation)
- News 24 Corona virus Confirmed Cases South Africa
- Bing Corona Trackerhttp://www.health.gov.za
- https://www.gov.za/Coronavirus
CORONA SUID AFRIKA
A virus broke the world – die wêreld vasgevang in die virus.
Coronavirus klap Suid Afrika – Die virus vind sy pad na Suid Afrika
Gesels saam
Gaan na my Posbus bladsy
Los ‘n boodskap
Stuur ‘n e-pos
Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you