Voorspoedige Nuwejaar

voorspoedige nuwejaar

Dis ‘n nuwejaar

Voorspoedige nuwejaar aan al my lesers! Ek onthou ek was ‘n tiener meisie van 15 jaar toe ek en my klasmaat gesels het oor waneer dit die jaar 2000 sou wees en dit het bitter ver en half onbereikbaar gevoel. Hier is ons nou aan die begin van 2020! Die tyd staan ook regtig vir niemand stil nie so moenie uitstel en wag nie – sit skouer aan die wiel en leef voluit.

Dinner for one

Onthou julle nog hoe die SABC jaar in en jaar uit die swart en wit 10 min skets van Dinner for one gebeeldsend het op oujaarsaand? Ek het dit nooit gemis nie. Dit het elke jaar vir my plesier verskaf en nou dat dit nie meer op die televisie gespeel word nie, kyk ek dit op YouTube op oujaarsaand. Vir die van julle wat nie weet nie: Dinner for one is ‘n komedie met ‘n traan in die oog van ‘n ou dame wat aleen is op oujaarsaand en dan hou haar getroue dienskneg haar geselskap met lagwekkende en dronk gevolge.

Nuwejaar vieringe

Nuwejaar in my familie is eintlik ‘n rustige besigheid. Kleintyd het my Ma vroeg gaan slaap en het ek en my susters tot middernag televisie gekyk en ook musiek gespeel op die radiogram. Ons het my Ma middernag gaan wakker maak en ‘n Voorspoedige Nuwejaar toegewens en dan het ons 4 saam koeldrank gedrink.

Ek is steeds nie ‘n partie mens nie en hou van goeie geselskap, lekker kos en my geliefde Millie (my foxterier) aan my sy. Meestal hou ek daarvan om na die nuwejaars vieringe op die televisie of internet te kyk en soms wonder ek hoeveel mense se drome ‘n werklikheid gaan word in die nuwe jaar.

DAAR IS MEER

Ek hou daarvan om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Dit laat jou tevrede wees met wat jy het. Nuwejaar is reg oor die wêreld gevier. Hier is 40 maniere om nuwejaar te vier

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.