So ry die trein
Rubriek
‘n Nostalgiese rubriek
deur Amanda Spies du Plessis
Omtrent Rubrieke
Rubrieke is basies artikels waarin die skrywer sy of haar opinie met die lesers deel.
Tipes Rubrieke
- Komies
- Polities
- Aktueel
- Nostalgies
- Vakkundig
- Teetyd kuiers
So ry die trein deur die herinneringe van my kinderjare. Nostalgie. Gelukkige sorgvrye tye. My Pa was ’n treindrywer van beroep en een van die voordele van sy beroep was dat ons hele gesin gratis kon treinry.
Saam met Pa in die lokomotief
My Pa het as treindrywer in Port Shepstone, Natal gewerk en het meestal die voorstedelike treine gedryf. Soms het Pa vir ek en my ouer suster voor in die lokomotief laat ry. Dit was stoom lokomotiewe en dit was nogal warm. Ons het slegs kort rukke voorin kon sit waarna ons dan in die wa direk agter die lokomotief gaan sit het. Vir ons was dit baie opwindend en lekker. Ons het gedink ons Pa was die baas van die trein dus het ons altyd gepraat van Pa se trein.
Trein vakansies
My Pa is in ’n motorongeluk oorlede toe ek 5 jaar oud was. Na sy dood het ons lewens drasties verander behalwe treinry. Ons kon wel nie meer voor in die lokomotief ry met my Pa as drywer nie, maar treinry kon ons steeds. Elke Junie skoolvakansie het ons trein gery. Dit was fees op fees. Ons het vele avonture saam beleef. Ons drie meisiekinders en Ma. Saam het ons Suid-Afrika deurkruis, Suidwes-Afrika en ander Afrika lande besoek en die oorgang van stoom na diesel en elektriese treine beleef.
Die slaap treine was in ’n ander liga as die dag treine
Ons het ons eie beddegoed saamgevat op die treinreise en ’n groot kosmandjie. Sodra die trein sy fluitjie blaas en sy eerste tree op die spoor gee het ons die mandjie oopgemaak en begin eet. Dit was deel van die lekkerte. Ma het ’n klein gasstofie saamgevat waarop sy vir ons warm kos in die koue winter aande gemaak het. Geld was skraps dus het ons nie in die eetsalon gaan eet nie. Ons het wel lekkers gekoop by die trollie wat elke nou en dan verbygekom het en soms sou Ma vir ons koffie in die oggend koop of die fles vol kookwater laat maak. Dit het ons nie gepla omdat ons nie in die eetsalon gaan eet het nie. Die kosmandjie het net te veel lekkertes opgelewer.
Die treinvakansies was die hoogtepunt van elke jaar en vele van my klasmaats het laat blyk dat hulle dit ook graag sou wou doen. Baie het nog nooit trein gery nie en meeste het nog nooit slaap treine beleef nie. Dit was eers jare later wat ek besef het dat ons eintlik baie bevoorreg was. Treine was en sal altyd deel van my lewe wees. Dit hou steeds ’n kinderlike bewondering in.
elsabeskryf
10 July 2023 at 8:06 amDit is nou mooi herinneringe! So jammer Pa is so vroeg uit jou lewe ????
Amandaskrywer(Aduppie)
10 July 2023 at 9:23 pmJa dis kosbare herinneringe en treine hou soveel nostalgie in. Pa was in die Spoorweg kollege besig om te leer om diesel treine te dryf. Hy het n naweek kom kuier en is oppad terug kollege toe in ‘n kop aan kop botsing met ‘n dronk bestuurder dood.Hy was 39 jaar oud.