Rooi balonne, sjokolade, teddiebere

Februarie word gekenmerk deur rooi ballonne, sjokolade, teddiebere en romantiese etes. Die maand van die liefde. Terwyl ek onlangs deur bokse uit my verlede gaan ontdek ek ’n boek met gedigte wat ek in my tienerjare geskryf het. Aangesien Februarie die maand van die liefde is, deel ek dit graag – al is dit nou Maart.

Dis jammer dat ek nie die naam van my geliefde by die gedig geskryf het nie. Ek het wel ’n idee…

Dis in jou oë

Jou oë kyk in myne

ons is dol verlief

ek sien sterre

en jy die maan

Jou oë is ‘n poel van blou

wat blink in die maan.

Die liefde skyn deur jou oë

ons is dol verlief.

(Hierdie ene het my verras. Ek kan nie onthou dat ons ooit in Riviersonderend was nie. My Ma het wel 10 jaar gelede daar gaan gewoon)

Oneindige liefde

Ons liefde is so oneindig soos Riviersonderend

So sonder end maak alles sin.

Strome van liefde

Rivierklippe vol respek

Emmers seesand vol genade

(Ek was duidelik verlief en verlore en behep met Aspoestertjie en haar Prins)

U majesteit

Jy is my liefling en ek jou skattebol

Jy is my Prins en ek jou Prinses

Saam in ons ‘n koninkryk

My hand soek joune

Jy is myne

Vir altyd en altyd

Hier by jou voel ek veilig

Verlore en verlief

Ek skryf steeds gedigte – sommer maar net vir die lekkerte

(’n Gedig wat ek vir my dogter geskryf het)

Ware Liefde

Ek onthou toe ek jou vir die eerste keer in my arms vasgehou het.

My hart klop warm wanneer as ek na jou kyk.

Jy is deel van my, my bloed bruis ook in jou are

Die liefde tussen my en jou , dis ware liefde so mooi

Daar is soveel onthou prentjies in my kop

Die sjokolade soene, drukkies in oorvloed

Gister was jy ‘n sproetgesig kind en skielik is jy groot

Jy kan nie wag om die wêreld te ontdek en jou vlerke te sprei nie

Geniet die sonskyn wat die lewe jou bied

leef voluit, geniet elke oomblik

en wanneer die storms om jou woed en mense jou seermaak

onthou die veilige hawe wat hierdie arms jou bied

(My liefdesbrief aan my getroue honde maat nadat sy in Junie 2022 gesterf het. Sy was 17 jaar oud)

Liefde van my lewe

My ander helfte
My hartklop
My stapmaat
My huismaat
My beste vriend

Jy is lojaal
Jy is getrou
Jy is swart en wit
Jy is Millie

Gedigte skryf is nie my professie nie – sommer net ‘n stokperdjie

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.