Naguil koerant 8 van 2023

Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.
Van die Redaktrise
Ek verwelkom julle by die Naguil koerant uitgawe 8 van 2023 met ’n uittreksel uit die gedig van C Louis Leipoldt (1947) getiteld
Viooltjies in die voorhuis –
Viooltjies blou en rooi!
Viooltjies orals op die veld,
En orals, ai, so mooi!
Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder,
so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
die asvaal ou Karoo.
In hierdie mooie maand kan ’n mens nie help om te glimlag nie. Daar is net soveel mooi rondom ons. Weg is die kaal bome en die grou grys weer wat plek maak vir sonskyn. Kinders wat skater van die lag terwyl hulle deur die spreier hardloop en koeldrank ysies eet. Maak jou voordeur oop, stap af in die straat en kyk rondom jou. Hoor die voëltjies in die bome baljaar, sien die hernude wonder van God se werke en ervaar Sy genade.
Geniet Oktobermaand met al sy mooi en vind vreugde buite tussen die blomme en grasgroen plante.
Tot volgende keer
Amanda
Skrywer kollig
“Afrikaans gaan nêrens anders heen as waarheen ons dit vat nie. Ons moet produkte skep wat só goed is dat mense agter ons aanloop.” (Beeld, 30 September 2002)
Hans du Plessis is ’n skrywer wat steeds diep spore in Suid-Afrika trap. ’n Ikoon onder Afrikaanse skrywers. Hy is in 1945 in Pretoria gebore en het homself as onderwyser bekwaam. Terwyl hy onderwyser was, het hy deeltyds in die Afrikaanse Taalkunde studeer. Hy is bekend vir sy vurige toesprake en het reeds in 1977 gesê dat die Afrikaner ’n fout maak deur hulleself te isoleer en die ander nie-blanke Afrikaanssprekendes van hulle te vervreem. Sy bundel Die Griekwa Psalms is een van sy bekendste werke en het verskeie pryse gewen.
Beteken die Skryfskool iets vir sy eie skryfwerk? “Ek dink so, ja, want deur die skryfskool is ’n mens daagliks besig met skrywers en skryf opleiding. Dit stimuleer ’n mens baie en dit dryf jou telkens terug om te gaan skryf.” (Beeld, 13 Februarie 1992)
Ou boek kollig
In Jesus se voetspore is die verhaal van die Amerikaner Bruce Marchiano wat die rol van Jesus vertolk het in The Gospel of Mathew. ’n Voormalige sepie akteur se lewe het handomkeer verander toe hy ’n Christen geword het. Kort na sy bekering het hy die rol van Jesus vertolk in die film waarvan Regardt van der Berg die Regisseur was. Die boek vertel van die dinge wat agter die skerms gebeur het en sy ervaring om die rol van Jesus te vertolk.
Ek het hom ontmoet tydens sy boek bekendstelling in ons gemeente. Hy het sy getuienis in ’n stampvol kerk gelewer. Sedert die film gaan hy voort om Jesus te speel in films wat die evangelie verkondig.
Stories oor plekke en sy mense
- Die 2de Wêreld oorlog het reeds 70 jaar gelede geëindig en steeds is daar oorblyfsels van ’n oorlog wat miljoene mense se lewens geneem het. Kyk net hierdie foto’s van militêre toerusting wat deur die natuur ingesluk is.
- Kameel – huise tussen spore is ’n pragtige nostalgiese plek waar treine, spore en silo’s ontmoet en spoorweghuise nog mooi is.
- Wat kan ’n 2 jarige en ’n 99 jarige in gemeen hê? Vriendskap. Kry solank ’n lappie vir die oë.
- Die Russiese weermag het iets in gemeen met Barbie. Jy gaan lekker lag.
- Namakwaland se blommeprag is hierdie jaar nog mooier.
Nuwe boek kollig
Die laaste kanariegeel notaboek is die nuutste skepping van Anchien Troskie. Dit vertel die storie van Mia wat ’n stowwerige boekwinkel binnestap, boeke en liefde vind. Sy leer haarself ken en haar lewe verander vir altyd. Die skrywer Anchien weet hoe om haar lesers nader te trek en te behou.
Skrywer sake
Artikels oor skrywers en skryfskole:
Die toekoms van die ATKV-Skryfskool
Aanlyn skryfskole
Leer by bekroonde skrywer en joernalis Carla van der Spuy
Video kollig
Hierdie storie is tussen fantasie, inspirasie en diere sake dus plaas ek dit hier. ’n Man se liefde vir dinosourusse en kuns het sy passie en werk geword en hy geniet sy werk terdeë.
Grapjas
Klein Jannie en sy gesin eet Sondag middag by Ouma. Net toe almal aan tafel is, begin Ouma die kos opskep. Toe Jannie sy bord kos ontvang, begin hy dadelik eet.
“Jannie, asseblief!!” sê sy ma. “Wag asseblief tot ons gebid het.”
“Ek hoef nie,” sê hy dadelik.
“Natuurlik moet jy!” antwoord sy ma. “Ons bid altyd voor ons by die huis eet.”
“Ja, maar dit is by ons huis” verduidelik Jannie. “Maar hierdie is Ouma se huis, en sy weet hoe om te kook.”
Musiek kollig
Alhoewel Gert Vlok Nel die lirieke vir Beautiful in Beaufort-Wes geskryf het en dit ook sing bly Theuns Jordaan se uitvoering daarvan steeds vir my die mooiste. Sit terug en luister.
Inspirasie
Vrouens is die rugstring van gemeenskappe en in die Afrikaner geskiedenis is daar vele vrouens wat sterk gestaan het in die aansig van geweld. Tydens die Groot Trek was dit vrouens wat kaalvoet met hulle kinders die plase beskerm het terwyl hulle mans in die voorste linies geveg het teen die Britse oormag. Verskeie standbeelde van hierdie vrouens is by die Voortrekker monument opgerig waaronder ’n standbeeld van Prinsloo (16) wat verskeie kere deur Zulu krygers met assegaaie aangeval was. Sy het die aanval afgeweer en oorleef.
Diere sake
Amerika is berug vir sy tornado’s wat grootskaalse verwoesting aanrig. In hierdie video word troeteldiere herenig met hulle mense na ’n tornado. Aangrypend
Bybel vers
JOHANNES 15:12 AFR83 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Vinnige Resep
Maalvleis en Kool gebak
Halwe koolkop fyn opgekerf
Halwe ui fyn opgekap
2 Wortels geskil en gerasper
2 Groot eiers geklits
100 gram broodkrummels
500 gram maalvleis
1 teelepel Borrie
Sout en Peper
Smeer oondpan met olie
Meng alles bymekaar.
Gooi in oondpan en maak eweredig
Bak 40 minute by 180 C
Haal uit en sprinkel kaas oor
Plaas terug in oond vir nog 10 minute
Sit oond af en laat rus in warm oond vir ’n paar minute
Siedaar aandete is op die tafel
Dankie vir die saam kuier. Terugvoer en versoeke word verwelkom. Tot volgende keer.
Discover more from Amanda Skrywer
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
scrapydo2.wordpress.com
13 October 2023 at 8:31 amEk geniet telkens jou koerant. Dankie dat jy steeds volhou om dit uit te gee.
Amandaskrywer
13 October 2023 at 8:26 pmDankie vir jou mooi woorde. So bly jy geniet dit.