Lesse wat ek geleer het
Lesse wat ek geleer het
Lesse wat ek geleer het op die pad deur die lewe. ’n Mens begin jou pad sonder bagasie en soos die jare aanstap maak ons pakkies bymekaar – sommige hef ons op terwyl ander ons aftrek. Die lesse wat ek langs die pad geleer het, mag dalk nie dieselfde wees vir ander nie en daar sal weer dinge wees wat jy geleer het wat jy weer graag met ons wil deel. Jy is welkom om dit in die kommentaar afdeling te deel.
Maak God jou vennoot
Ek was en is steeds ’n gelowige en sonder God sou ek nie hier gewees het nie. Hy het deur al die traumas en vreugdes by my gestaan. Gelowiges lewe volgens die Tien gebooie en dit hou ons in lyn en indien ons afwyk bring God ons weer terug. Hy wys ons tereg, vergewe ons en help ons terug op die pad. Die boek The purpose driven life geskryf deur Rick Warren dek alle aspekte van die Christen se leefstyl terwyl die Bybel ons rigtingwyser en leermeester is. Mens kan nie verkeerd loop met God as vennoot nie.
Pasop vir die slagoffer mentaliteit
Dit is net te maklik om vas te haak in slagoffer wees. Stuck in a Rut soos die Engelse se spreekwoord lui. Glo my ek was al daar waar ek myself vreeslik jammer gekry het oor my status as enkelouer en ook as die kind van ’n enkelouer. Vir jare het ek geglo dit is my lot en dat ek verdoem is tot ’n lewe van minderwaardigheid. Ander verval weer in die Afrikaner slagoffer kategorie waar hulle glo dat hulle nooit ’n werk sal kry nie a.g.v. hulle herkoms. Gooi die slagoffer weg en wees ’n oorwinnaar.
Wat mense sê en wat hulle doen, is nie altyd dieselfde nie.
Hierdie is ’n eina ene en ’n les wat ek meer as een keer moes leer voordat dit ingesink het. Ek is van nature ’n vredeliewende mens en wil graag glo dat alle mense opreg en eerlik is. Dit is ongelukkig nie altyd die waarheid nie. Soms gee mense voor en sê een ding terwyl hulle optrede verskil.
Hou altyd by jou eerste keuse
Hierdie les het ek jare terug by ’n gebeds vriendin geleer. Ons het gesit en tee drink toe ’n boodskap op haar foon deurkom. Dit was van ’n ander vriendin wat haar nooi vir ’n kuier aand. Sy was duidelik teleurgesteld toe sy negatief antwoord. Op my vraag oor waarom sy Nee gesê het, was haar antwoord: Bly altyd by jou eerste keuse want anders bly jy van plan verander omdat jy dink die volgende uitnodiging sal beter wees. Dit is meestal nie waar nie. Behalwe dit het sy ook bygevoeg dat jy moet altyd onthou dat dinge ’n manier het om uit te kom en dan lyk jy onbetroubaar en oneerlik. Ek het dit nog nooit vergeet nie.
Seuns en Meisies is verskillend
Toe my kinders (albei meisies) klein was, het ek 5 vriendinne gehad elkeen met 2 seuns. Ek was dus die enigste ene met meisies. Ek kon my vreeslik vererg oor die seuns wat so baie kon eet en rof gespeel het terwyl die vriendinne weer gevoel het my meisies kla oor alles en gil vir niks. Dit was eers na my kleinseun se geboorte dat ek besef het dat die twee geslagte eintlik baie van mekaar verskil. Hy is net 8 en eet reeds baie, hy versamel stokke en klippe en klim oor mure en hekke terwyl sy sussie (7) met poppe speel, prentjies teken en dans voor die spieël terwyl sy haar hare agtertoe gooi.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you