My gunsteling tyd van die jaar
My gunsteling tyd van die jaar is Kersfees. Ek is soos ‘n kind oor Kersfees. Die liggies. Kersvader. Huise behang met liggies en ander Kers versierings. Kers markte. En natuurlik die belangrikste van alles: Die herdenking van Jesus se geboorte. Die uitbeeldings van Jesus se geboorte in die stal. Tydens my grootword jare in Port Shepstone, Natal het die Engelse Metodiste kerk regoor ons kerk ‘n lewensgrootte uitbeelding gehad. Elke dag het ek oor die pad gestap en my verkyk aan die mooiheid. Elke keer as jy oor ‘n lyn gestap het, het die luidsprekers aangekom en die verhaal van Jesus se geboorte vertel. Sulke kosbare herrinneringe.
‘n Familie tradisie
Vandat ek kan onthou vier ons Kersfees ordentlik. Selfs die jaar toe my Pa oorlede is. Ek was 5 jaar oud. My Pa is daardie Augustus dood en my Ma was swanger. My suster was 9 jaar oud. Daardie Kersfees het ons ook Kersfees gevier alhoewel daar baie gehuil is en my Pa se plek aan die tafel leeg was. Die volgende jaar was daar nog ‘n mensie. My jongste suster. Elke jaar daarna het ons huis die verhaal van Kersfees vertel met liggies, persente en die uitbeelding van Jesus se geboorte. Ons het opvoerings gehou en Kers liedere gesing.
Dit raak beter
Soos die jare aangestap het, het ons familie van 4 (My Ma en ons drie dogters) gegroei tot 13 (My Ma, Ons 3 dogters met ons mans en kinders). Met die tyd het Kersfees groter en lewendiger geword. Steeds het ons Kersfees ordentlik gevier. Eintlik beter. Ons het ‘n Kersvader gehuur om die kinders te vermaak en die Kers versierings het meer en meer geword. Die Kers konsert het baie meer deelnemers gehad.
Dit verander
In ‘n oogwink het dinge verander. My Man is oorlede. Een van my susters tesame met haar man en kinders het begin Kersfees vier by die see saam met hulle vriende. Die kinders het mettertyd groot geword en hulle ouerhuise verlaat en hulle eie tradisies begin saam met hulle geliefdes. En so gebeur dit dan dat ons Kersfees net ‘n klomp grootmense het. Dit was ‘n aanpassing. Vreemde ervaring. En steeds vier ons Kersfees – net anders alhoewel steeds met liggies, lekker kos en persente. Minus die Kers konsert en kers liedere.
Vyftig jaar later
Sjoe ek kan amper nie glo dit is al so lank vandat my Pa oorlede is nie. My Ma is nou 84 en woon in die Ouetehuis. In haar ouetehuis kamer hang sy steeds Kers liggies en luister gewyde Kers musiek. Sy kan nie meer reis nie en die oorspronklike familie staan nou op 25 en woon wyd verspreid. Elke jaar ry ek vir Oukersaand en Kersdag deur na my Ma toe en eet saam met haar in die Ouetehuis se eetsaal. Pragtig versier en so anders as 50 jaar gelede.
Hierdie Kersfees
Onlangs is daar by my ingebreek terwyl ek met vakansie was en my 17 jarige hond Millie alleen tuis was. Ek voel nie gemaklik daarmee om Kersfees van my huis af weg te gaan nie. Dus gaan my Ma hierdie jaar na my toe kom vir Kersfees. Sy kan nie meer bus ry nie so ek en my suster gaan haar heen en weer vervoer. Ek het reeds die kersete beplan. Daar sal kersliggies en persente wees en gewyde kers liedere sal in die agtergrond speel. ‘n Uitbeelding van Jesus se geboorte. Na 50 jaar is Kersfees steeds spesiaal. My gunsteling tyd van die jaar.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you