Onverwagse onwelkome besoeker

Donderdag aand se onverwagse onwelkome besoeker het my teen ‘n muur laat vas hardloop. In die proses om so vinnig moontlik uit die kamer te kom en die deur toe te maak het ek my selfoon in die kamer laat val.

Onverwagse onwelkome besoeker

Doodgewone Donderdag

My Donderdag het ietwat onrustig begin met Millie my 17 jarige hond wat my die helfte van die nag uit die slaap uitgehou het. Sy het teen die middag begin beter word. Dit het die hele dag met tussen poses saggies gereën, Ek het die kersliggies so 6 uur se kant aangeskakel. Ongeveer 8 uur het ek begin reg maak om kamer toe te gaan. Soos ek deur die huis stap sien ek my gaste kamer se boonste venster is oop en besluit om dit toe te maak ingeval dit inreën. Terwyl ek die kamer binnestap sien ek hoe iets by die oop bo venster in kom en val tot op die vensterbank en toe op die vloer. Eers dink ek dis ‘n geitjie en stap na die venster om dit toe te maak.

Dis nie ‘n geitjie nie

Net toe ek aan die kant gordyn vat om dit weg te trek sodat ek die venster kan toemaak hoor ek ‘n geskarrel op die vloer. Ek kyk af en sien hierdie vaal grys gedierte wat soos ‘n veldmuis lyk. Ek kyk nog so toe vlieg die gedierte verby my kop. Amanda skrik haar boeglam. Dis ‘n vlermuis! In my haas om uit die kamer te kom breek ek amper ‘n been. En die wenner na die deur is … Amanda. Ek klap die deur in my onwelkome besoeker se gesig toe. Die lig is aan

Help iemand

Wat maak ek nou? Die vlermuis is nou vasgekeer in die kamer. Eers maak ek ‘n sterk koppie koffie en besluit om raad te vra by familie en vriende. My selfoon is egter nerens te vinde nie. Na ‘n lang soektog bel ek my selfoon van die huis foon af. Duidelik hoor ek die selfoon uit die vlermuis kamer uit. Hoe kry ek my selfoon uit die kamer sonder dat die vlermuis my eet vir aandete?

Google noodlyn

Koorsagtig begin ek navorsing doen oor vlermuise en wat om te doen wanneer hulle in jou huis inkom. Tot my verbasing lees ek dat hulle eintlik vredeliewend is en slegs aanval wanneer hulle bedreig word.Vyf video’s later weet ek wat my te doen staan.

Operasie vlermuis

Al die ligte in die huis word afgesit en al die buite deure wyd oopgemaak. Al die binnedeure word toegemaak en Millie word in my kamer toegemaak. Ek trek ‘n jas met ‘n kappie aan vir beskerming en gewapen met ‘n sterk flitslig en tientalle skietgebede stap ek die kamer versigtig binne. Die vlermuis is nêrens te sien nie en ek gaan dit nie nou soek nie. Driftig stap ek na die venster toe en skuif die kant gordyn weg en maak al die vensters wyd oop. Als gebeur met militêre presisie. In die verbygaan sien ek my selfoon op die bed lê. Dankie tog. Die deur is nou voor my. Eers die lig afsit. Sukses.

Operasie vlermuis vervolg

Vrydag oggend moet ek die vlermuis gaan soek agter die deur. Dis nog nie die einde van hierdie storie nie.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.