My eie biblioteek
Ek wou nog altyd my eie biblioteek gehad het. In my kinderjare kon ek ure lank in die plaaslike biblioteek deurbring. Vir my was dit ‘n fantasie wêreld vol mense, plekke en stories. Biblioteke fassineer my. Ek was onlangs weer in die biblioteek in Oudtshoorn waar ek ‘n tiener was en nie veel het verander nie. Tussen die rye boeke het ek my oë vir ‘n oomblik toegemaak en weer gevoel soos die meisie wat nie kon wag vir die nuwe Ena Murray boek nie.
Boeke en nogmaals boeke
Sommige vrouens koop juwele, ek koop boeke. Met die jare het ek soveel boeke bymekaar gemaak soveel so dat ek nie meer genoeg plek gehad het nie. Die boeke het in rye op mekaar gestapel gestaan teen een muur in my kamer. Elke keer wat ek ‘n boek gesoek het moes ek deur die stapels boeke soek.
Nog boeke
Nadat my Ma in die ouetehuis ingetrek het, het sy vir my nog boeke gegee. Kosbare boeke. Nog ‘n stapel boeke in my kamer. My eie biblioteek roep my.
Dis tyd
In 2020 tydens COVID19 was ons aangesê om tuis te bly en ek het besluit om my tyd nuttig te gebruik. Ek het op YouTube gaan kyk hoe om boekrakke te bou. Ek het nog nooit boekrakke gebou nie. Dis my eerste keer. Dit het my 30 dae geneem om die planne op te trek, mates te neem en die boekrakke te bou. Daarna moes dit teen die muur vas gemaak word.
Ek het elke boek afgevee en in groepe gedeel: Godsdiens, geskiedkundig, ware verhale, skoonheid, resepte, fantasie, tuin, engels, afrikaans. Dit was ‘n tydsame proses. Die eindresultaat het selfs vir my verstom.
My eie biblioteek
My sitkamer is ‘n langwerpige vertrek en ek moes mooi meet en pas. Elke keer wanneer ek die vertrek binne stap en my rye en rye boeke sien voel ek hoe die vreugde oor my spoel. Ek het nou my eie biblioteek met baie boeke wat ek nog nie eers gelees het nie of waarvan ek vergeet het en ander wat ek weer ‘n keer lees. Terwyl ons plaaslike biblioteek gesluit bly weens die virus, is ek steeds bevoorreg om te kan lees.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you