Beste Musica
Beste Musica
Ek weet julle is baie besig, maar ek sal net ‘n paar minute van julle tyd neem. Ek het iets op die hart.
Daar is nie ‘n maklike manier om dit te sê nie. Julle het my hart gebreek toe julle so skielik julle aftrede aangekondig het. Ons was vriende van 1992 af en het baie lief en leed en musiek gedeel. Julle was daar met elke verjaarsdag, Kersfees en dae wanneer ek bietjie af gevoel het. Net nou die dag 28 Januarie 2021 het ek weer gaan kuier by Musica in die Garden Route Mall. Dit voel soos huis elke keer wanneer ek daar instap. Nou moet ek lees dat julle amptelik toemaak op 31 Mei 2021.
Ek verstaan heeltemal dat die lewe rof is en COVID 19 het ons almal ‘n dwarsklap gee. Ek wil net graag weet hoekom julle nie betyds ‘n aanlyn tuiste geskep het nie? Dan kon ons steeds vriende gewees het. Mens moet mos saam met die tye verander en verbeter. Jammer vir die prekery – ek is ‘n Ma.
Musica was meer as net ‘n winkel. My gunstelinge in die winkels was al die Afrikaanse musiek (CD en DVD), Afrikaanse flieks en Country musiek. Ek het ook gereeld gaan krap tussen die spesiale aanbiedinge vir die ou Country sterre soos Kenny Rogers en Dolly Parton (dis moeilik om elders te kry). Daar is baie dinge wat op julle rakke is wat mens nie sommer op ‘n ander plek kry nie.
Noudat ek oor die ergste skok is en aanvaar het dat ons vriendskap oor en verby is wil ek dankie sê. Dankie Musica vir al die jare se goeie diens, vriendelike personeel en dat julle gesorg het vir die grootste verskeidenheid musiek. Ek sal julle nooit vergeet nie – hoe kan ek met soveel CD’S en DVD’s met julle naam op? Ek sal met nostalgie dink aan ons tye saam – soos my geliefde inry teaters.
My beste wense vir die Personeel. Dit was lekker om deel van die Musica vriende te wees.
Mooi loop en beste wense
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you