Mense wat ‘n indruk op my gemaak het
Mense wat ‘n indruk op my gemaak het. Sommige mense maak ‘n positiewe draai in jou lewe hetsy persoonlik of indirek. Wat ookal die geval soms bring iemand iets na die tafel wat jou laat nadink en selfs jou lewens uitkyk verander en/of verbeter.
Gebeds vriendin
Agtien jaar gelede het ek deur ‘n uitdagende tydperk gegaan as enkel ouer. Ek moes hulpeloos toekyk terwyl ek desperaat probeer sin maak het van die ellende. Dit was hartseer tye. Tydens ‘n insident was ek histeries en het ek gevoel ek is besig om te verdrink en bitter alleen so op my eie. ‘n Vriendin het my hande gevat en gebid totdat ek begin rustig raak het. Alhoewel ek nog altyd ‘n gelowige was het sy my geleer van bid, glo en vertrou wanneer jy op jou kwesbaarste is. Ek pas steeds toe wat sy my geleer het.
‘n Skrywer
Ena Murray was ‘n skrywer van liefdesverhale en as ‘n eensame tiener het ek myself in haar boeke verloor. Dit was voor sosiale media en ek het haar adres in die telefoongids opgespoor. ‘n 15 jarige Amanda het vir haar ‘n briefie geskryf en gevra oor haar vele reise na ander lande waaroor sy so goed kon skryf. Minder as ‘n maand later het ek ‘n handgeskrewe brief terug ontvang. Groot was my verbasing toe sy my meedeel dat sy nog nooit in ‘n ander land was nie. Sy het al haar inligting uit die plaaslike biblioteek gekry. Sy het my aangemoedig om boeke oor ander lande te lees en so op my eie reistogte te gaan. Dit was die begin van baie avonture deur die blaaie van ‘n boek.
Polisie konstabel
Na skool het ek by die Suid Afrikaanse Polisie aangesluit. Ek het my loopbaan in die aanklagte kantoor in Kimberley begin. Dit was tydens die Apartheidsjare met ‘n blanke en nie-blanke kant. Die blanke kant was relatief stil terwyl die ander kant baie besig was – dus het ek baie daar uitgehelp (dikwels tot ergenis van ander blanke Polisie manne). Een van die kleurling Polisie Konstabels het my die fyner punte van ‘n goeie Polisie beampte geleer. Hy het my in sy vertroue geneem oor die lewe in die bruin gebiede en die diskriminasie wat hulle selfs in die Polisie moes verduur. Ten spyte van sy 20 jaar in die Polisie was hy steeds ‘n konstabel wat in die aanklagte kantoor moes werk al het hy al sy eksamens met lof geslaag. Hy het my ook geleer hoe enige iets ‘n wapen kon wees en het hy my geleer hoe om myself te verdedig tydens ‘n aanval.
Tik onderwyser
My Pa is dood toe ek 5 jaar oud was. Ek het nie broers nie en het ook nie ‘n Oupa gehad nie. In Standerd 7 het ek by die tikklas ingestap en my onderwyser was ‘n man en die naaste aan ‘n Pa wat ek ooit sou kry. Hy het my aangemoedig en geprys en opregte belangstelling getoon in my as mens. Daar was niks weersinswekkend daaraan nie. Hy was opreg en kon sien wanneer ek nie op ‘n goeie plek was nie – dan het hy met my gepraat, geluister en raad gegee. Hy was meer as ‘n onderwyser – hy was ‘n instaan Pa figuur in my lewe.
Hierdie mense het ‘n indruk op my gemaak – ‘n blywende indruk
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you