Liefde is ‘n snaakse ding
Liefde is ’n snaakse ding soos die oues van toentertyd altyd gesê het. Liefde gaan egter baie vêrder as net gevoelens tussen geliefdes.
Die antieke Griekse filosowe identifiseer vyf vorme van die liefde: familie-liefde (in Grieks, Storge), vriendskaplike liefde (Philia), romantiese liefde (Eros), gas-liefde (Xenia) en goddelike liefde (Agape).
Na my man Hannes se dood het ek Valentynsdag gebruik om my kinders spesiaal te laat voel met sjokolade, blomme en spesiale kos – elkeen se gunsteling dis.
Wanneer mens liefde gee ontvang jy dit dubbeld soveel terug. Vat nou maar die liefde vir God – Agape in Grieks. Vir my is God ekstra spesiaal. Ons Ma het ons van God geleer en ons het elke Sondag kerk en Sondagskool toe gegaan. By my Ma het ek geleer om God lief te hê en te vertrou. My Ma is 87 jaar oud in 2024 en ek het baie onlangs ontdek hoeveel my Ma en God my lief het.
Vir 10 jaar het ek in Kimberley gewoon en gewerk saam met my man en na sy afsterwe het ek met my 2 kinders verhuis na die Suid-Kaap. “Sluit heel eerste by die kerk” aan het my Ma gesê en saam met my na die kerk in my nuwe dorp gegaan. Ek was 28 jaar oud met twee kinders – alleen en weerloos.
In 2024 het ek bewus geword van ’n brief wat my Ma aan die Predikant geskryf het – 30 jaar gelede
Daarin het sy die Predikant van my situasie vertel en my en my kinders aan God opgedra. Sy het daarin gevra dat die Predikant en die gemeente hulle oor ons ontferm. Dis die mooiste ding wat enige iemand al ooit vir my gedoen het. My Ma was bang dat ek sou kwaad wees oor die brief. Al wat ek voel is die liefde van ’n Ma vir haar kind en die liefde vir God. Hoe kan ek dan kwaad wees daaroor?
scrapydo2.wordpress.com
1 July 2024 at 10:11 pmDie liefde van ‘n moeder is onbeskryfbaar. Daars nie genoeg woorde nie.