Leer ken en verstaan die mens in die spieël
Meeste van ons gee om vir ander en skeep onsself af – veral vrouens. Dis eers waneer ons die mens in die spieël leer ken en verstaan dat ons daardie mens leer lief kry en beter behandel.
MY GESIG IN DIE SPIEëL WAS ‘N STUKKENDE MENS
My storie begin eintlik al jare terug. Ek was die jongste van twee dogters toe my Pa onverwags in ‘n motorongeluk gesterf het. Vyf maande later het ek die middelkind geword toe my jongste suster na my Pa se dood gebore is. Skielik het ek nie meer ‘n Pa gehad nie, ek het my posisie as jongste kind verloor en skielik deel geword van die middelkind klub.
Minder as twintig jaar later het ek ook my man aan die dood afgestaan en met twee dogters agter gebly. Daar was geen tyd om aan myself aandag te gee nie. Dit was ‘n verbete stryd om oorlewing.
Ek het ontaard in ‘n Ja mens wat geen grenslyne gehad het nie,wat op my laat trap het. Mense kon vir my sê net wat hulle wou en ek het dit toegelaat.
EK KOM BY ‘N KRUIS PAD
Buitekant het dit vir mense gelyk of niks my pla nie en die vetrolletjies het begin aanpak om my lyf. Ek het die emosionele pyn met kos probeer beter maak. In 2010 is ek gediagnoseer met Achalasia ‘n sluk siekte en kon ek skaars water afkry. Skielik was ek met myself gekonfronteer want mense het gedink ek sit aan. Ek moes na myself toe draai vir aanmoediging en drukkies. Ek het besef ek moes na myself begin kyk en ek het geen idee gehad van wie Amanda nou eintlik is nie.
Vroeg in 2011 is ek geoppereer wat my weer ‘n gedeelte sluk teruggegee het. Ek het weer in die hospitaal beland in 2012, 2013 en in 2014 het ek by die dood omgedraai en was ek vir 11 dae in die Hoë sorg eenheid en altesame 21 dae in die hospitaal. In hierdie tyd is my geliefde skoonouers oorlede en het ek ook my werk verloor.
DIT WAS HARDE WERK
Ek was verswak en kon skaars beweeg so ek het die herstel tyd gebruik om te lees. Ek het Dr. Phil se Self Matters asook Life Strategies deurgewerk. My kinders was volwasse en besig met hulle eie lewens. Ek het dus baie tyd met myself deurgebring. Tydens my siekte het vriende se kuiers ook beduidend minder geraak. Ek het ook die Krag van ‘n vrou wat bid deur Stormie Omartian gelees en verskeie ander. Ek het begin lees oor gesonder eet en sommer baie YouTube video’s gekyk.
In 2017 het ek ‘n sielkundige gaan sien en onder haar leiding maar sonder enige medikasie het ek geleer hoe om myself eerste te stel (nee dis nie selfsugtig nie), hoe om gesonde grenslyne te stel.
NIE ALMAL GAAN BLY WEES VIR DIE NUWE JY NIE
Mense ook familie het die verandering in myself begin raaksien en vir sommige mense het ek ‘n bedreiging geword. Skielik (wel eintlik het die metamorfose 5+ jaar geduur) het ek grense gehad en kon ek Nee sê. Dit het negatiewe reaksie uitgelok en moes ek hoor dat ek selfsugtig is, net aan myself dink terwyl ander weer gemeen het dat ek seer sekerlik op medikasie is want waar op aarde is die Amanda wat hulle geken het?
JY VERDIEN ‘n BETER SPIEëL BEELD
Ek kyk nou in die spieël en sien ‘n mens vir wie ek lief is en verstaan. Sy is Amanda se beste vriend en uiters lojaal aan haar. Die groei is enorm. Ek is steeds Amanda en my naam beteken Worthy to be loved, maar die ou mishandelde stukkende Amanda het plek gemaak vir ‘n beter Amanda. Jy verdien ook ‘n beter jy.
MOENIE OPGEE NIE
My stuk oor ‘n Lewe van dankbaarheid sluit baie goed hierby aan
My Engelse webblad nl. Let’s make tea bied die leser nog leesstof.
My proses van myself vind en liefhê het meer as 5 jaar geneem. Die keuse is joune. Jy kan stukkend bly en slagoffer speel of die wenner in jou lewe word. Sterkte. Jy kan dit ook doen. Die mens in die spieël wag geduldig vir jou.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you