Ek wens ek was ‘n vlieg

Ek wens ek was 'n vlieg

Ek wens ek was ‘n vlieg teen die muur waar niemand my kan sien nie. Stil soos ‘n muis bespied ek die omgewing. Eers sal ek moet verander van kleur want teen ‘n wit muur sal ek gou raakgesien word. Dalk moet ek ‘n ander ligging kry – verskuil agter die broodblik? Dis tyd vir ekspedisie

Ekspedisie in volle swang

Mense hou van skinder en dis ongeskik om af te luister en te skinder. Alhoewel dit nie my gunsteling tydverdrywe is nie sal dit goed wees om te weet wat mense van my dink en te hoor hoe hulle my bespreek. Of dalk is dit nie so ‘n goeie ding om te weet nie. Dalk verander dit dan my persepsie van ander mense. Tog…

Ek wens ek was ‘n vlieg

‘n Vlieg is nou nie juis die mees gewildste dier op aarde nie – hulle word heen en weer geklap en tog kry hulle dit reg om te ontsnap. Die gesegde lui mos veg of vlieg – en dit kan ‘n vlieg goed doen. Ek sal egter doodstil sit en nie ‘n vlerk roer nie. Gespitste ore (het ‘n vlieg ooit ore?) en vlerke styf teen my lyf. Daar sal ek net stil sit en luister na die mense se gesprekke en dink hoe om hulle te laat voel oor hulleself en ander.

Vlieg van huis tot huis, land na land

Indien ek ‘n vlieg sou wees sou ek wou keer dat lande met mekaar oorlog maak deur in die veglustige Presidente se tee te mis. Dan sal hulle siek word en nie meer kan oorlog maak nie. ‘n Vliegmens sal ook kan hoor wanneer iemand ‘n misdaad beplan en ‘n stokkie daarvoor steek. ‘n Vlieg se reputasie is nie baie goed nie – daar is goed en sleg in elkeen – so wat is die goed in ‘n vlieg dan? Ek wens ek was ‘n vlieg dan kan ek dit mos uitvind.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.