Koek en Tee

teetyd kuiers

Welkom by Teetyd kuiers. Ontspan lekker met ‘n koppie tee en gesels saam

Koek en tee, mooi tafels is die afskop tema van Teetyd kuiers vir 2024.  Desember is mos darem die tyd vir lekker eetgoed. In ons familie is tuisgebak die in-ding. Ek onthou nog die reuke uit my Ouma se beskeie huisie in Riversdal agter die treinspoor. My Ouma het 2 loseerders gehad – onderwyseresse en sy het hulle gereeld bederf met koek en tee. Sy het ’n skinkbord gedek met mooi koppies, bordjies en ’n handgeskrewe briefie. Die skinkborde sou sy voor hulle deure neersit vir wanneer hulle van die werk afkom.

Ouma het ook moeite gedoen met haar kleinkinders. Ons is behoorlik bederf met ons verjaarsdae. Koeke met gekleurde versiersel. Te mooi!

My Ouma het altyd gesê dat die bediening van eetgoed net so belangrik is as die kwaliteit van die eetgoed. My Ma het die tradisie oorgeneem en uitgebrei daarop. Wanneer ek terug kyk op beide Ouma en Ma se mooi tafels vol eetgoed besef ek dat hulle met min geld en kennis die beste gedoen het vir vriende en familie. Ma sou kappertjies uit ons tuin pluk vir tafel blomme. Ons Kers en verjaarsdag tafels het vir my gelyk soos  iets uit ’n boek.

Ek het die mantel oorgeneem

Ouma is reeds lankal oorlede en Ma se hande kan nie meer nie en tog geniet Ma dit steeds om te koek en tee uit mooi bordjies en teekoppies. Ek geniet dit om te bak en brou en mooi tafels te dek vir vriende en familie. Mooi tafeldoeke – sommige prettig, ander elegant rond die hele geleentheid af. Kersfees en Nuwejaar was dit net ek en Ma rondom die tafel met tuisgebak. Ons het gesels oor al die mooi tafels  wat ons met die jare gedek en geniet het .

Dis vir my tog te lekker om te sien hoe mense dit steeds geniet om tuisgebak te nuttig en mooi tafels te waardeer. Kom ons drink ’n koppie rooibostee en ’n sny tuisgebakte wortelkoek op 2024. Mooi loop!

Kosreise is ’n webblad waar ek my liefde vir kook en bak deel.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.